'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Sunday, November 7, 2021

Nog Mosaiëk

 Die afgelope twee maande het ek aan die buiterand eenhede spandeer. Eers het ek net op die 4 hoeke gekonsentreer, toe het ek die 4 blokke van die bo en onder sy gedoen en daarna die 4 blokke aan die sye.

'n Sykant eenheid met die volgende stap.

Ek het nie genoeg van die helderblou gehad nie maar gelukkig 'n baie soortgelyke materiaal, wat ek toe by die sykante gebruik het. My volgende stap was om die klein "Grandmothers Flower" agtergrond eenhede voor te berei en in die korrekte oriëntasies in te las. Ek het besef om groot stukke agtergrond heksagone wat almal dieselfde is aan mekaar te las, sou vir my net te siel dodend wees. 



Op my skets in EQ8 kon ek mooi sien waar ek met die agtergrond kon speel. Ek het baie gesukkel om die regte liggroen materiaal in my lap versameling te vind. Alhoewel dit radikaal in voorkoms van die agtergrond materiaal verskil vorm dit nie 'n kontras met die agtergrond nie en sal mens na aan die kwilt moet wees om die rosette van die agtergrond te onderskei.

Die voorbereide hoek met die agtergrond lappies asook die groen en donker rand.
Die lappie in die middel van die rosette het al die kleure wat in die kwilt is daarin maar omdat dit ook op 'n ligte agtergrond is, is dit net 'n spatsel kleur in die agtergrond.

Die vierhoeke is voltooi met die groen en donker rand om. Die buiterand moet nog gemaak word. Die eenhede daarvoor is al gemaak. Ek het nou begin om die bo en onder rand te maak.

Net die rand gedeelte

Die rosette in gespeld

My agtergrond materiaal wat wit met 'n vuilgroen drukwerk daarop is, is baie min. Ek kan nie iets anders in die middel van die kwilt gebruik nie- dit gaan nie reg lyk nie, maar ek kan die groter gedeeltes in die buiterand met halwe GMFG in vul in die ligte groen materiaal. Dit is altyd voordelig om in eenhede te werk. Dit kan mens gemaklik in geselskap sit en doen. Ek tel gewoonlik hoeveel ek benodig en maak dan daardie hoeveelheid. 

Vir die rand het ek het eers 'n sak vol donker heksagone 2-2 aan mekaar gewerk, so ook met die groen en die agtergrond. Dit kon ek ook in geselskap doen of waar ek gemaklik op die bank gesit het.

Toe ek die donker rand aan mekaar werk, was dit makliker om by 'n tafel te sit. Met die hoeke moes ek ook onthou om twee identiese eenhede en twee spieëlbeelde te maak. Ek het een hoek gemaak en dit toe as "patroon" gebruik om die ander hoeke te maak. Die spieëlbeelde het ek onderste bo gemaak. Ek kon maklik die groot eenhede op die tafel uitsprei om dit as gids vir die ander eenhede te gebruik. Die lappies wat 2-2 aan mekaar gewerk was, het die laswerk by die tafel bespoedig. Dit was maklik om hierdie eenhede net in die regte oriëntasie te draai en vas te werk om die rand wat in verskillende rigtings krul te maak.

Ek maak die buiterand se agtergrond ook net 'n bietjie interessanter om te las

Gisteraand moes ek eers hierdie GHFG maak,want ek het nie genoeg vir die rand gehad nie. Vir my is dit soos saad saai. Die klein eenhede lyk na niks maar dan is dit gereed om in die groter geheel in te gaan en is die laaste stap eintlik gou. Mens doen 'n groot klomp voorbereidings werk wat eintlik na niks lyk nie en dan ewe skielik het jy hierdie wonderlike resultaat as 'n maand se werk op een dag by mekaar kom. 'n Ander voordeel is dat mens die eenhede kan pars en seker maak die nate is mooi plat. As die groter eenhede gevorm word is dit nie so moeilik om die nate mooi plat te pars nie, want die helfte is reeds gepars.

My doelwit is om teen Kersfees die kwilt klaar te hê. Dit sal die gouste wees wat ek al 'n handlas projek voltooi het. (Ek werk terselftertyd aan twee ander handprojekte ook, net vir afwisseling om dinge interessant te hou en te verseker dat ek nie iets nuuts bedink nie!)

Alles wat mooi is,

Marié

Thursday, October 21, 2021

Mosaiëk Groei

Ek het die afgelope maande regtig lekker aan my Mosaiêk kwilt gewerk. Ek het nie gedink dat die 2 cm 6-kantige patroontjie my aandag so sou hou nie. Ek het regtig gedink dit sou maar 'n vervelige projek wees. Toe nou nie! Hierdie kwilt is deur twee Mosaiëk vloerteel ontwerpe geinspireer- sien my vorige blog. Dit lyk wel heel anders, maar ek is tevrede met die rigting wat die kwilt self aan geneem het.

Middel met ligblou heksagone wat nog kort. (onder om)
Ek het toe nie 'n alternatiewe blou gebruik nie maar die openinge gelos in die hoop dat ek die ligblou Grunge sou vind. Verlede week by Fabric Contessa was my geluk daar toe ek dit in die "oorskiet" stukkies mandjie kry- in 'n netjiese rolletjie gedraai. Die Grunge materiaal is baie uniek. Dit is 'n effe kleur maar met verfkwas hale van ander kleure soos lig groen en wit daarop. Dit is eintlik 'n wonderlike agtergrond materiaal .
Grunge in die voorgrond en enigste alternatief daaragter

'n Pers Grunge vir die wat nie weet hoe "Grunge" materiaal lyk nie- Die foto wys beter as die ligblou.

Ek werk nog steed die kwilt in seksies en werk dit dan aan mekaar vas.

Die middelste gedeelte is vas gewerk met losstaande eenhede buite om.

Die buite groot blokke het nie klein heksagone in die middel nie maar een stuk materiaal. 


Ek is gelukkig om buiten die randpatroon materiaal wat ek vir die kleiner heksagone gebruik het, ook 'n bypassende materiaal te h♠ (nie vir die projek gekoop nie, maar aangekoop omdat dit vir my mooi was)



Waneer ek die kleiner heksagone maak werk ek dit in 3 rye en dan die rye aan mekaar. Die groen rande werk ek in 'n sirkel vas (eers 2-2) en werk dan die sirkel aan die middelste 7 heksagone. Dit was 'n goeie rond dra projek die afgelope paar maande. Die "verrassings" wat elke sirkel opgelewer het, het my aangespoor om hard hier aan te werk.





Ek hoop jy het ook 'n projek waaraan jy lekker werk en wat jou inspireer!

Alles wat mooi is
Marié

Sunday, July 11, 2021

'n Vloer Inspireer

Pinterest is 'n baie lekker plek vir my! Ongelukkig kry ek daar so baie idees wat ek nooit sal kan gebruik nie- tyd is mos darem 'n faktor, al probeer ek dit omseil. Ek het hierdie Mosaiëk vloer in Pinterest gesien en dit in my EQ program begin ontwerp.
Ek het 'n ander vloer voorbeeld gebruik om die rand te ontwerp.
My ontwerp is deur baie verskillende fases en die uiteindelike ontwerp lyk nou glad nie meer soos die oorspronklikes nie.
As verjaarsdag geskenk vir myself- gee ek my verlof om die kwilt te begin. (Ek moet maar gereeld onderhandel as ek 'n nuwe kwilt wil begin.) So ek begin die kwilt op 12 Junie- die naweek na my verjaarsdag, en kan dit nie neer sit nie. Die middel is amper voltooi, die verkillende dele moet net aan mekaar gewerk word. Ek werk nie volgens die English Paper Piecing metode waar die heksagone oor papiertjies getrek word nie. Ek werk'n gewone naatjie en "running stitch" soos ek al my hand laswerk doen. Aangesien ek al so lank laslapwerk doen en 'n goeie aanvoeling vir die naat toelating het, skat ek die naatjie en begin en eindpunte. Dit spaar baie tyd, want ek hoef niks te merk nie. Aangesien heksagone in 6 rigtings kan uit dy, is dit baie vergewensgesind. Ek sny die heksagone van stroke wat ek op mekaar stapel. Ek sny eers 60 grade diamante en dan sny ek die twee punte af met my Perspex Heksagoon patroonplaat
My aanvanklike idee was om die vloer in bruin materiale te interpeteer. Na ek die materiaal begin sny het wat ek in gedagte gehad het, het ek besluit dit sou te vervelig wees. Ek is op die plaas en het nie my hele materiaal versameling hier nie. Gelukkig kry ek 'n materiaal waarop randpatrone gedruk is en ek het baie moontlikhede. My planne verander onmiddelik!

Ek begin in die middel. Ek werk aan eenhede en stel dit dan saam.


Aangesien ek net begin het, het ek nie seker gemaak dat ek genoeg materiaal het nie. Veral die agtergrond ligte blou in die middel raak min. Dit is 'n Grunge materiaal en ek kan nie nog van die ligte blou kry nie. Ek kort so 10 heksagone en sal dit nou maar van 'n ander ligte blou materiaal sny.

Ek raak darem bewus dat ek groot stukke materiaal gaan nodig kry en gaan doen bietjie inkopies spesifiek vir die projek. Nou sal ek darem nie weer te min hê van die "hoof" materiale nie.

Ek voltooi heelwat elemente vir die middel en moet dit nog net vaswerk.



COVID keer my op die plaas vas (My seun raak siek en ons moet isoleer). Ek het die middelste gedeelte by die see gelos en kan nie verder hieraan werk nie. Ek gaan nou voort om aan die heksagone wat buite om kom te werk. Ek hou daarvan as die kwilt so groei. Eers is daar niks en dan as jy die elemente byvoeg het jy ewe skielik 'n kwilt.

Oor 2 weke sal ek die voltooide middel kan wys.

Alles at mooi is.
Marié













Tuesday, November 3, 2020

Windmeul Kwilt

Gereelde lesers van my blog weet al dat ek meer projekte begin as wat ek klaar maak. Op die oomblik het ek ook 'n hele paar handwerk projekte. Een daarvan is my Windmeul kwilt. Ek het nog nie daaroor geskryf nie en dit is nou amper klaar. Ek is nou al 'n jaar en 2 maande daarmee besig.

Ek het dit verlede jaar in Augustus begin voor ons na die Nasionale Kwiltfees in Johannesburg is. Net voor die fees besef ek dat my ander handprojek nie genoeg handwerk sou lewer vir die 10 dae wat ons weg is nie. Nie voordat ek weer sou moes merk en sny nie. Goed wat ek makliker in my naaldwerkkamer sou kon doen.

Dit was dus 'n maklike besluit om stroke te sny vir 'n nuwe projek en al die ligte stroke te merk. Dit is dan gekombineer met medium en donker stroke. Ek kon baie van hierdie stroke waarop driehoeke getrek was aan mekaar vas werk met my Las-Eers-sny-dan metode terwyl ons gery het. Saans as ons in die koffiekamer saam kuier het ek verder gewerk en as ek nie klasse gehad het of na die uitstallings gekyk het nie, het ek hieraan gewerk. So het ek baie fees herinneringe in die kwilt vas gewerk.

Ek het genoeg stroke saam geneem dat ek eers by die huis weer die merk en los sny werk gedoen het en die eenhede aan mekaar begin las het. Direhoek eenhede bied altyd 'n uitdaging as dit aan mekaar gewerk word. Daar is oral skerp puntjies wat moet skerp wees. As dit in 'n Windmeul gerangskik word, kom daar 8 puntjies by mekaar wat almal mooi skerp moet wees.





Toe ek so halfpad met die projek was, het ek 'n baie goeie plan gekry. Ek is nou al vir 3 jaar besig om te probeer mediteer en vind dit baie moeilik. Ek behoort aan 'n Facebook groep "Stitch Meditation" waar die mense die mooiste goed sonder enige beplanning werk- hoofsaaklik borduurwerk. Ek het al baie gedink hoe ek dit in my kreatiewe werk kan inkorporeer. Die besef het by my pos gevat dat ek hierdie laslapwerk van my met konsentrasie en gedagtes slegs gefokus op dit waarmee ek besig is, kan doen. Dit het die kwaliteit van my laswerk onmiddelik baie verbeter en ek het ook nuwe tegnieke (vir my) ontwikkel om die laswerk nog meer akkuraat te maak. Ek pluk ook die vrugte in my lewe van hierdie meditasie praktyk.

Pinterest

Die projek het ek die eerste keer in Pinterest gesien en dit is eintlik 'n miniatuur projek. Die patroon daarvoor is ook hier te kry. Ek het besluit om met dieselfde soort materiale te werk, drukstowwe met klein motiewe sodat die kleurwaarde nie versteur word nie. In 'n paar gevalle het ek wel ander materiale gebruik omdat ek nie nog van die soort materiaal gehad het nie- wat ook interessantheid aan die finale produk verleen.

Ek het 4 cm en 8 cm perspex driehoeke laat maak wat die merk van die eenhede baie vergemaklik het. Karton patroonplate raak pap van die potlood lyne wat so baie daarom getrek word en moet vervang word. Ek het stroke van 13,5 cm gesny en kon 4 blokke uit elke strook merk. Daar was 'n paar gevalle waar ek net drie blokke en 'n paar eenhede kon uit kry (party materiale is net smaller) en hierdie eenhede het ek in die rand gebruik.

Toe ek 50 blokke gemaak het, besef ek my kwilt het te veel blou in en te min groen, mostert en dowwe oranje. Ek het 120 blokke vir die kwilt nodig gehad en kon toe dadelik nog materiale kies om hierdie kleure aan te vul.