'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Monday, July 23, 2012

Te veel moontlikhede

Daar is niks so verlammend soos 'n te wye keuse nie. Ek het hierdie blokke gemaak in 'n Quilt University klas met Karen Combs. (Sy gee ongelukkig nie meer daar klas nie- maar die boek is net so volledig.)
3 Blokke-een met ligte vierkante, een met donker vierkante en een wat diagonaal in lig en donker verdeel is met driehoeke en vierkante.
Ek kon nie besluit watter uitleg ek sou gebruik nie. Dit was 'n groot werk om die blokke te maak en ek wou nie dit aan mekaar stik en dan later spyt wees nie. Uiteindelik het ek besluit dat hierdie blokke nou aan mekaar gestik moet word. Toe ek die boks  oop maak- sien ek dat ek eintlik reeds 'n goeie uitleg beplan het.
Begin van uitleg
Ek weet nou al te veel moontlikhede lei tot besluitloosheid- so ek het dit net eenvoudig volgens die diagram uit gelê op my ontwerp muur. Tot my verbasing het ek so baie blokke gehad dat ek nog 'n rand patroon ook kon beplan. 
Uitleg sonder raam

Daar is steeds blokke oor. Ek sal nog 'n geleentheid kry om weer eens te besluit hoe ek die kleiner kwilt sal uit lê.
Ek het al twee kwarte aan mekaar gestik en gepars. Hopelik sal ek die ander twee kwarte vandag kan voltooi.

Vir hierdie kwilt het ek baie materiale gebruik wat oor was na ek dit in ander kwilts gebruik het. Mens raak moeg om dieselfde lappies oor en oor te gebruik Jy voel ook "skuldig" as ou bekendes in die klas bly lê- so asof jy jou ou vriende verwerp. Op hierdie manier kon ek die geliefde lappies eens en vir altyd op gebruik.

Alles wat mooi is en geniet jou "scraps".

Sunday, July 15, 2012

Alle kwilts is nie suksesvol nie

Ek eksperimenteer graag. Dit beteken dat ek nie altyd die uitkoms kan voorspel nie. Soms is die eindproduk onsuksesvol. Dit beteken nie dat dit nutteloos was of 'n Flop is nie. Ek leer baie tydens so 'n "onsuksesvolle" kwilt. Dikwels is die les wat om nie te doen nie.

Ek wou die kwilt in meer moderne materiale doen. Die uitslag het net weer eens vir my bevestig dat besige materiale nie vir kwilts met sterre en fyn skerp puntjies gebruik moet word nie- julle is welkom om  my verkeerd te bewys

Ek het 'n klas in Quick strip  paper piecing op die webwerf "Craftsy" gedoen. Ek het gelukkig nie soos gewoonlik die moeilikste ontwerp gekies en my eie idees tussen in gegooi nie. Ek het presies soos die instruksies gemaak behalwe: Ek het nie die patrone uit gedruk nie- ek het een patroon gedruk en toe dit bo-op 'n stapeltjie van  12 papiere gesit. Ek het met 'n naald sonder garing op al die lyne gestik. Die voordeel is dat mens ook aan die materiaal kant die lyne kan sien.

Die eerste keer wat ek aan "Paper based piecing" blootgestel is, is daar gedemonstreer dat dit op deursigtige papier afgetrek word sodat mens aan albei kante die lyne kan sien.

Die groot nadeel van "Paper based piecing" is om die papier agterna te verwyder. Daarom verkies ek om nie deur die papier te stik nie, op "freezer paper" te werk en die materiaal daarop vas te stryk. Ek vou dan die papier weg en stik langs die vou.

Die strook metode wat in hierdie klas gebruik word, is egter baie nuttig en het die tydsame proses wat "Paper based piecing" gewoonlik is, baie bespoedig.

In die klas word daar stap vir stap van eenvoudige patrone na meer ingewikkelde ontwerpe beweeg. Ek kan regtig die klas aan beveel. Vir die prys van een klas kan 5-7 kwilts van verskillende patrone gemaak word.

Mag al julle kwilts mooi en suksesvol wees.
Marié

Monday, June 25, 2012

Is kleur keuses moeilik?

Toe ek 30 jaar gelede begin laslapwerk doen het, was ons grootste probleem om geskikte materiaal in die hande te kry. Om materiaal van die VSA te bestel het die verkryging van 'n banktjek behels- wat 'n beslommernis was dit net nie! Hier in die Kaap kon ons uit die klein verskeidenheid materiale van Biggie Best kies. Verder het ek by Sacks & Futeran (ai waar is daardie ou winkel van ons!) geskikte Da Gama materiale uit gesoek.Wat 'n vreugde toe die Suid Afrikaans vervaardigde Percy Burlin reeks op die mark gekom het. 


Ons het dit nie toe besef nie, maar die beperkte keuse het dit vir ons eintlik makliker gemaak. Dit was defnitief nie oorweldigend soos wat nuwe kwilters vandag moet ervaar nie.
Ster: hoofsaaklik Percy Burlin materiale

As gevolg van die beperkte materiaal keuse en my onervarenheid het ek aanvanklik 'n monochromatiese kleurskema gebruik. Mens kan nie eintlik 'n fout maak as jy net pink lappe gebruik nie?  Die patroon/ontwerp  in 'n monochromatiese kleurskema sal net duidelik uitstaan as mens seker maak dat daar genoeg verskil tussen ligte, medium en donker materiale is. Die essensiële vaardigheid het ek  dus op hierdie wyse aan geleer.


Ek het baie gesukkel om die konsep van 'n agtergrond mooi te verstaan. Ek wou graag 'n verskeidenheid lap gebruik soos aan beveel deur my geliefkoosde skrywers van daardie tyd, Beth Gutcheon en Jinny Beyer. Ek het dan soms 'n ligte en 'n medium materiaal as agtergrond gebruik. Dit het gelei tot snaakse vorms in die agtergrond wat my patroon versteur het. Aanvanklik het ek Laslap blokke gemaak en dit in kussings gebruik. Ek kon dus na my handewerk kyk wanneer ek in my sitkamer ontspan het. Op hierdie manier het my eie werk belangrike lesse aan my geleer.
Dit is min of meer soos dit gelyk het- met die versteurde agtergrond.


Mens leer maar net die beste deur te doen, en dan jou werk te bestudeer. Beginner kwilters gee graag hul werk weg. Sorg dat jy genoeg kwilts vir jouself maak en dit gebruik sodat jy die lesse wat jou kwilts jou kan leer kan ervaar.


Alles wat mooi is
Marié


Sunday, May 20, 2012

Leer aanlyn

'n Kwiltklas is altyd lekker. Mens leer iets nuuts of werk met nuwe materiale of tegnieke. Dit is altyd rede vir groot opwinding. Die groot lekkerte van kwiltklasse is die mense wat saam met mens in die klas is. Mens maak maklik nuwe vriende en deel baie pret. Ook verwonder ek my aan my klasmaats se kreatiwiteit en mens put dikwels ewe veel genot uit die "teacher" se klas voorbeelde as dit wat jou klasmaats optower.
Gemaak in 'n klas met Priscilla Bianci met Guetemala weefstowwe

Aanlyn klasse is weer anders. Ek het graag klasse deur Quilt University gedoen. Daar is 'n klas forum en leer mens mense vanoor die wereld dmv die forum ken. Die klas inhoud word op papier lesings weer gegee en behels dikwels take en "huiswerk" dit hang natuurlik van jouself af of jy dit doen en dan kan mens in die Galery sien wat almal wat aktief deel neem, doen.

Bargello kwilt gemaak in 'n Quilt University klas

Ek het heelwat klasse waarvan ek net die lesings uit gedruk het, maar die inligting is net so waardevol soos 'n boek en ek kan dit altyd weer bestudeer. Ek het ongelukkig al die kursusse wat my interesseer op die web tuiste gedoen en daar kom net so een of 2 nuwes 'n jaar by.

Nou het ek n nuwe "Kollege" ontdek. Dit is die webtuiste Craftsy. (Die naam het my eers afgesit want ek neem my kwiltwerk ernstig op- dit is defnitief nie 'n tydverdryf of verkleinwoordjie nie). Eers het die breiwerk my interesseer en ek is nou besig met my tweede paar sokkies.

Die groot lekkerte van die klaskamer is dat die klas altyd daar is. Waar Quilt University se klasse oor 4-6 weke strek en dan klaar is, het jy altyd toegang tot die Craftsy klaskamer waarvoor jy ingeskryf het. Party keer begin mens iets met entoesiasme maar dan gebeur die lewe en het jy nie tyd om met die klasse voort te gaan nie. Dan kan jy later wanneer jy weer tyd het, weer na die klas gaan sonder dat jy verdere betalings moet maak. Die klasse is ook goedkoop en wissel van $7- $29. Hier is die klasse in die vorm van video's. Dit forseer jou om te sit en die inligting in te neem. (En nie net die notas uit te druk nie) Dit is ook baie lekker om goed wat mens nie altyd uit die beskrywing verstaan nie, te kan sien.

Gaan loer bietjie daar rond en skryf in op hul nuusbriewe om inligting oor klasse te ontvang.

Alles wat mooi is,
Marié du Toit

Wednesday, May 2, 2012

'n Lekker Stikdag

Vandag het ons Swartland kwilters 'n stikdag op Riebeek Kasteel gehad. Almal wat wou, het hul roos lappe gesny in die verskillende breedtes. Die wat die kwilt al gemaak het of nie hul swaar masjiene wou saambring nie, het hulle met handwerk of breiwerk besig gehou en saam die geselligheid belewe.
Rita- regs, se roos kwilt
Die roos kwilt is 'n baie lekker projek. Daar is niks skerp puntjies wat mooi hoef te pas nie. Mens knip groot blokke van mooi groot roos materiaal. Van kleiner drukstowe word smaller stroke gesny om Four- en Ninepatches te maak. Wag laat ek nou mooi Afrikaanse name bedink? Wat van Skaakmat (vir Checkerboard of four patch of Two Patch soos dit ook bekend is?)



                                                                    en Nege blokkies?

 Ag ek is nie goed met dit nie- wil julle nie help en voorstelle maak nie? (By die Boland gilde - nuut gestig 3 maande gelede het hulle die mooi naam "Oe en Aaaa" vir "Show en Tell" gekies, daar was ook voorstelle van "Haal uit en wys" en nog 'n paar goeies wat ek nie nou kan onthou nie)

Ons het ook twee ander blokkies gemaak waarvan een deur  Elmarie sommer die klaviertjie gedoop is.

                                         Die ander blokkie lyk so

Ons het dit alles met strook laswerk gedoen. Die seminole werk van ons eerste vergadering die jaar het baie gehelp dat almal die konsep van strookstelle, waarvan skywe af geknip word, goed verstaan het.

Ek het vandag weer besef hoe 'n belangrike rol stysel kan speel. Party mense het papperige materiaal wat met stysel baie makliker hanteerbaar sou wees, gehad of moes kleiner naattoelatings stik wat dan op gewip het en met stysel mooi sou plat lê.

Die stikdag is in die ACVV saal gehou en ons het die lekkerste sop gehad. Die pampoensop was soos poeding. Rita se lekker vars brood was ook 'n heerlikheid en daar om die brood tafel het ons eers botter se lof besing en idees uit geruil om botter met olyfolie smeerbaar te maak.

Almal is met 'n klompie voltooide blokke huis toe om daar oor die volgende weke die kwilt te gaan klaar maak. Kwilters is darem net ander kwilters se beste vriende. Ons deel nie net ons liefde vir lap en ontwerp nie maar ook mekaar se lief en leed. (Rita se hond het kleintjies gekry in haar awesigheid en aan die einde van die dag was daar 8- wie soek 'n Boerboel gekruis met 'n Great Dane-Bokser Pa ('n baie slim hond) se kleintjies?

Alles wat mooi is liewe kwilt vriendinne,Marié




Monday, April 23, 2012

Stysel op die Stikdag

Nou dat ek gereed is om te blog is my kamera net weg. Ek soek al 'n week lank daarna. Ek het foto's met my selfoon geneem en gehoop om dit na my rekenaar via die faks lyn te stuur maar dit wou nie werk nie. Wel die oplossing is om oor iets te praat wat nie foto's benodig nie.

Ons is nou die dag na Robertson vir die Langeberg gilde se stikdag. Wat 'n heerlike dag met 80 kwilters in die saal om saam te stik. Dit is tradisioneel ook hul poeding dag en vir die wat wou, was daar poedings te kus en te keur.

Ek het my stysel by die huis vergeet en moes eers 'n winkel soek. Ek  gebruik stoom as ek my materiaal stryk en my pante oop pars. As ek praat van oop pars, bedoel ek dat daar geen plooi of vou in die naat moet wees nie. (Ek pars wel my naattoelatings na een kant toe en nie soos by klere konstruksie waar mens elke naattoelating na sy eie pant terug vou nie.) 'n Plooi in die naat lei tot onakkuraatheid want die pante is nie die regte groote nie en daar waar mens die speld op die agterkant steek, is nie die werklike ontmoet punt as die naat nie behoorlik oop gepars is nie. Stoom en 'n goeie strykyster is die enigste manier om die pante in posisie te laat bly as mens dit gepars het,  dit fikseer die naat in die posisie.

Stoom kan baie maklik die pante uit proporsie rek en daarom is dit belangrik vir my om stysel te gebruik. Ek gebruik 1 teelepel Robin Starch poeier op 1 koppie water. Ek gooi dit in 'n goeie spuitbottel met 'n pomp. Die ander bottels raak verstop en kan nie 'n goeie fyn sproei maak nie. Skud dit goed en dit is gereed om te gebruik. In hierdie druk pomp bly dit langer vars, maar as dit soos ou brood begin ruik gooi ek dit weg en maak vars stysel aan.

Ek kon nie rou stysel te koop kry nie en het toe ten duurste die kannetjie stysel gekoop.( Ek gebruik te veel stysel om net dit te gebruik.) Stysel help ook om 'n stewiger oppervlakte te gee as mens kwilt so selfs al sny mens nie die materiaal op die skuinste nie, is dit steeds voordelig om dit te stysel. Ek stysel net die materiaal wat ek gebruik want stysel kan glo vismotte trek-  maak dus seker dat die kwilt in wording daarteen beskerm is en was die kwilt by voltooiing.

'n Ander voordeel van die gebruik van stysel en stoom is, as die materiaal goed nat gemaak word, krimp dit. As jy nie jou materiaal vooraf was nie- is hierdie stap nodig om dit te krimp. Dit is veral voordelig wanneer mens klaar geknipte stroke soos Jelly Rolls gebruik wat jy nie kan was nie.

Mens kan die stysel mengsel sterker of flouer aan maak. As jy met 'n baie pap materiaal werk kan jy meer stysel gebruik (2-3 teelepels op 'n koppie water). Wanneer mens stysel gebruik om die randjies van appliek in te vou en oor freezer paper te stryk, is 'n flouer stysel mengsel beter. Indien 'n puntjie op die rand gepars is waar mens 'n egalige ronding wil hê, is dit makliker om dit te herstel as 'n flouer stysel mengsel gebruik word.

Vir masjien appliek werk is stysel ook noodsaaklik om die materiaal te stabiliseer sodat die satynsteke dit nie uit proporsie trek nie. Dit verleen ook stabiliteit as mens sierstiksels op materiaal maak- 'n afskeur stabiliseerder is ook noodsaaklik, maar as jou materiaal self gestysel is, is die resultate net soveel netjiese. Ek stysel ook al my materiaal wat ek vir digitale borduurwerk op my masjien gebruik. Viva Stysel!

Alles wat mooi is


Marié du Toit

Tuesday, March 20, 2012

Seminole Werk

Die Seminole Indiane het stroke lap aan mekaar gestik, dit op gesny, die eenhede verskuif en weer aan mekaar gestik om interessante kleur bande te lewer.

Die bande is gebruik as versiering op kledingstukke. Die konsep is eenvoudig maar die moontlikhede legio. Die stroke se breedtes kan wissel, of die kleur samestelling kan interessante sekondêre patrone op lewer.

Die stroke wat aan mekaar gestik is kan ons 'n strookstel noem. Deur die strookstel teen 'n 60 of 45 grade hoek in skywe te sny kan twee verskillende bande (Die klaar produk) gevorm word. In die een band staan die diamante regop op hul skerp punte.


Deur die skywe af te skuif word 'n smaller band gevorm waar die daiamante se skerp punte aan mekaar raak.



Die boek van Cheryl Greider Bradkin, The Seminole Patchwork Book  en 'n tydskrif artikel het my aan gespoor om hierdie tegnieke op gewone laslapwerk toe te pas.

 Ek het die Trip Around the World en Lone Star kwilts met die tegniek gemaak.

Trip Around the world
Uiteindelik het ek ook gesien hoe mens dit in enige projek kan gebruik om laswerk te bespoedig.

In hierdie kwilt is die "ontwerp element" wat die oog deur die kwilt lei, die Nine Patch in hul spesifieke oriëntasie. Al die Nine Patches is gemaak deur eers stroke aan mekaar vas te stik, dit in skywe te sny, elke tweede skyf om te draai en dan vas te stik om die eenheid te vorm. Die eenheid is in die hoeke van die blokke gestik.
Burgoyne Surrounded

Alles wat mooi is


Marié



Monday, February 27, 2012

Daan Desimaal

Toe ek skool toe is, het Suid Afrika net gemetriseer en was Daan Desimaal daar om aan almal bystand te verleen met die metrieke stelsel. Kwilters ouer as 55 het nog met duime te doen gehad maar diegene jonger as 55, het van duime geleer uit Amerikaanse kwiltboeke.

Aangesien ek lief is vir somme maak  (dit is een van die redes waarom ek laslapwerk so geniet- ek kan baie berekeninge maak) en ek maklik diagramme kan lees, het dit nooit vir my sin gemaak om 'n Amerikaanse patroon te volg nie. As ek 'n idee sien waarvan ek hou, het ek self besluit watter grootte ek dit wil hê en my patrone gemaak (indien nodig). Deesdae werk ons graag sonder patrone met die multi lyn liniaal. Ek verkies my liniaal in sentimeters en my hele sisteem is in sentimeters.

Toe ek begin laslapwerk doen het en dit met die masjien wou doen, (daar is in 1980 nog hoofsaaklik met die hand gewerk) het ek gou besef dat die naat toelating en die masjien voet met mekaar  verband moet hou. Die VSA tydskrifte het van 'n spesiale kwartduim voetjie gepraat wat mense moes aankoop of lyne wat op die masjienbed getrek moes word om die mate te gee. Ek het gereken as ek die masjien voetjie van die naald tot die buitekant van my voetjie meet, het ek my naat toelating en so het ek dan 7 mm bygevoeg.

Ek het wel gesien dat my blokke nie altyd die verlangde grootte is nie (So 2-4 mm minder) maar dit was klein verskille wat nie my akkuraatheid beïnvloed het nie. Ek het milimeter grafiekpapier gehad en kon my patroon plate daarop trek. Dit is dan ook die naat toelating van die patroon plate in my boek: Masjienlaslap.

Met die patroon plaat vrye era waar ons met die lyne op die liniaal gewerk het, was ek 1 mm kort van die 1,5 cm wat ek op die liniaal kon lees.  As ek vierkante of reghoeke sny waar daar 'n naat toelating aan elke sy is, moes daar 2 naat toelatings by getel word, dus 1,4 cm.

Ek het weer die masjien voetjie om gedop- gedagtig aan my blokke wat so 4 mm kleiner is en toe die hele voet gemeet. Ja ek het vergeet van die mm spasie wat die naald in beslag neem! Die voetjie was 1,5 cm breed en die helfte daarvan 7,5 mm. Nou kon ek ook patroonplaatvry werk en vierkante en reghoeke met my liniaal en rolsnyer tot 8 lae hoog sny.

In die duim sisteem geld die volgende:
Vierkante:   voeg 1/2 duim by
HST- Half Square Triangles (Dit is driehoeke waar 2 driehoeke uit 'n vierkant gesny word)- voeg 7/8 duim by
QST Quarter square triangles (4 driehoeke word uit 'n vierkant gesny word twee maal oorhoeks verdeel)- voeg 1en 1/4 duim by.

As jy dit uit teken of wiskundig bereken is die mates vir die desimale stelsel as volg:
Vierkante- voeg 1,5 cm by
HST - voeg 2,5 cm by
QST -voeg 3,5 cm by

Dit is belangrik om nie die twee sisteme uit te ruil nie. Moenie die vierkante in sentimeters gebruik en die driehoeke in duime en dan die pante kombineer nie.

Noodsaaklik: Die naattoelating wat jy byvoeg is die naattoelating wat jy moet stik.


Die manier waarop mens die materiaal gids bepaal wat jou naat toelating werklik is. As jy 'n spesiale kwartduim voetjie gebruik maar jy gids die materiaal so dat jy dit duidelik kan sien (dan steek daar 1 mm materiaal uit) stik jy nie 'n kwart duim naat toelating nie maar nader aan 7,5 mm. (Dit is hoekom Amerikaanse boeke van 'n "scant 1/4 inch" naat praat.

Naat toelating steek uit
Dieselfde geld as jy met die 1,5 cm voetjie gids moet die materiaal net gelyk aan die buiterand van die voetjie sigbaar wees en nie uit steek nie.
Korrek
Maak dit saak? Mense wat naat toelating foute maak sal dit nie agterkom as al die pantjies dieselfde is nie. Bv as jy net met vierkante werk raak die naat toelating onbelangrik. Dan is die enigste ding wat belangrik is: konstante handhawing van dieselfde naat toelating.


Die kleefstrook wat mens gebruik om spieëls vas te plak, is dik en bied 'n goeie gids om die materiaal voor die masjienvoet in die regte posisie te hou.

Noodsaaklik: Handhaaf deurgaans dieselde naat toelating.


Alles wat mooi is.


Marié

Friday, February 24, 2012

Die idees

Die groot lekkerte van laslapwerk is dat mens binne die veilige grense van bestaande patrone jou eie idees vrye teuels kan gee. Trek blokkiespapier nader en begin om dit in twee kleure in te kleur. Los areas oop , maak paadjies voeg nog kleure by met oop areas tussen gekleurde areas en gaan so voort tot 'n ontwerp begin vorm.


Hou twee spieëls op 'n hoek en die hele ontwerp vorm.
Gee die blok 'n kwart draai en 'n ander ontwerp vorm. (Myne is nie heeltemal 'n spieelbeeld nie- ek dink nie ek het die blokke reg ge"flip" in die program nie) Hopelik kry julle die idee.

Dit is altyd goed om 'n idee op papier te beplan voordat mens dit uitvoer- dan het jy 'n padkaart en weet jy waarheen jy oppad is.

Baie mense hou daarvan om patrone uit 'n boek of tydskrif te maak of aan te koop. Op die manier is jy verseker dat daardie mooi kwilt wat jy sien, die een is wat jy sal skep. Met die materiaal reekse wat deesdae te kry is kies party ontwerpers sekere reekse vir hul patrone. In Suid- Afrika is hierdie reekse nie altyd beskikbaar nie en is dit dan jou eerste kreatiewe uitdaging. Soek materiale wat min of meer soos die prentjie van die kwilt lyk of kies jou eie materiale. Van hier is dit dan net nog 'n treetjie om jou eie kwilt te ontwerp.

As 'n patroon of boek jou die nodige tegnieke leer om te volg met stap vir stap aanwysings is dit 'n goeie wegspringplek. As jy net instruksies kry van hoeveel van die verskillende parte van die onderskeie materiale benodig word, het jy dalk nog hulp nodig met tegnieke wat goeie resultate sal lewer.

In hierdie blog hoop ek om tegnieke wat ek gebruik met julle te deel.

Alles wat mooi is.

Marié


Tuesday, February 21, 2012

Waar sou jy begin?

Toe ek 30 jaar gelede begin Laslapwerk doen het, het 'n basiese kursus bestaan uit die maak van 6-12 blokke wat dan in 'n sampler saam gestel is. Dit is vir my opmerklik hoe baie basiese kursusse nog hierdie holrug geryde resep volg. Dit beteken nie dat mens nie baie kan leer nie- maar beginners wil dikwels nie iets leer nie- maar iets maak.

So wat sal jy iemand leer wat iets wil maak? Daar is so baie wat mens kan doen, dat mens amper nie weet waar jy moet begin nie. Ek dink mens moet klein begin soos 'n tafel loper, 'n kussing oortreksel of 'n babakombers. As daar geen behoefte vir hierdie items is nie- wat van 'n "loper" wat oor die voetenent van die bed gegooi word vir 'n enkelbed so 150cm X 80 cm en 200cm X 80cm vir 'n dubbelbed. (Dit is amper al te groot)

'n Groot kwilt raak swaar en moeilik om te hanteer veral as mens by die kwilt stadium kom. 'n Te ambisieuse eerste projek lei dikwels tot die ontmoediging van 'n moontlike nuwe kwilter. So my raad aan 'n beginner is: Kies 'n projek wat jy regtig graag wil doen en pak eers iets kleiner aan voor jy jou groot droom projek aan pak. Begin dan met 'n maklike patroon waar vierkante of reghoeke gebruik word. Daar is genoeg dingetjies te leer met so 'n projek- sonder dat mens dit kompliseer met skerp hoekies wat by mekaar moet kom.
Hierdie kwilt is van 'n verskeidenheid materiale gemaak
Ek het materiale waarvan ek klere gemaak het, wat ek as "Fabriek scraps" gekry het en my klein "stash" op daardie stadium, gebruik.

Dit is 'n regte outydse patroon en ek wonder hoe dit in vandag se moderne materiale sal lyk? Wat van 'n Kaffe Fasset materiaal wat met 'n Amy Butler materiaal gekombineer is? Hoe sal dit lyk as elke tweede blok net 'n effe kleur is? Of as mens 'n materiaal gebruik met groot rose op of 'n prentjie lap. Dit is wat my altyd so lus maak om aan die werk te spring- daar is so baie moontlikhede en ek het 'n kas vol POTENSIAAL (Dit is my lap versameling).

Kwiltwerk verg vaardigheid en oefening. Vandag het ons die opsie om die werk deur langarm kwilters te laat doen. As jy jou kwiltwerk self wil doen, kies dan die laslap patroon so dat mens  die kwilt patroon met 'n walking voet kan stik.(Dit wil sê reguit lyne wat in 'n rigting loop) Dit is 'n spesiale masjienvoet wat anders as die drukvoet van die masjien nie die materiaal teen die masjien vasdruk nie maar saam met die voertandjies die materiaal na agter beweeg. Dit verhoed dat die drie lae van die kwilt (die bokant, die watteersel (batting) en die agterkant) as 'n eenheid beweeg en nie oor mekaar gly om plooie te vorm nie.

Die vierkantjies in die kwilt is 5 cm groot (finale mate- dit beteken nadat dit vas gestik is- die mate van die vierkant wat jy kan sien). Ek het egter nooit met vierkante gewerk nie!

As jy geskikte lap het- 'n taamlike verskeidenheid, kan jy hierdie eenvoudige kwilt of 'n variasie daarvan maak met die aanwysings wat ek in volgende blogs sal gee.

Alles wat mooi is.

Marié



Sunday, February 19, 2012

Welkom

Ek het lank gewonder of ek 'n tweede blog moet begin. Ek wil so graag in Afrikaans skryf en glo daar is ook kwilters of mense wat graag wil begin kwilt en in Afrikaans daaroor wil lees. Ek weet daar is nie so baie vroue wat tuis is op die rekenaar nie- veral diegene van my geslag. So ek hoop dat ek lesers sal vind en nie hier 'n gesprek met myself sal voer nie. Lewer asseblief kommentaar sodat ek weet of ek lesers het.

Marié