'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Monday, April 23, 2012

Stysel op die Stikdag

Nou dat ek gereed is om te blog is my kamera net weg. Ek soek al 'n week lank daarna. Ek het foto's met my selfoon geneem en gehoop om dit na my rekenaar via die faks lyn te stuur maar dit wou nie werk nie. Wel die oplossing is om oor iets te praat wat nie foto's benodig nie.

Ons is nou die dag na Robertson vir die Langeberg gilde se stikdag. Wat 'n heerlike dag met 80 kwilters in die saal om saam te stik. Dit is tradisioneel ook hul poeding dag en vir die wat wou, was daar poedings te kus en te keur.

Ek het my stysel by die huis vergeet en moes eers 'n winkel soek. Ek  gebruik stoom as ek my materiaal stryk en my pante oop pars. As ek praat van oop pars, bedoel ek dat daar geen plooi of vou in die naat moet wees nie. (Ek pars wel my naattoelatings na een kant toe en nie soos by klere konstruksie waar mens elke naattoelating na sy eie pant terug vou nie.) 'n Plooi in die naat lei tot onakkuraatheid want die pante is nie die regte groote nie en daar waar mens die speld op die agterkant steek, is nie die werklike ontmoet punt as die naat nie behoorlik oop gepars is nie. Stoom en 'n goeie strykyster is die enigste manier om die pante in posisie te laat bly as mens dit gepars het,  dit fikseer die naat in die posisie.

Stoom kan baie maklik die pante uit proporsie rek en daarom is dit belangrik vir my om stysel te gebruik. Ek gebruik 1 teelepel Robin Starch poeier op 1 koppie water. Ek gooi dit in 'n goeie spuitbottel met 'n pomp. Die ander bottels raak verstop en kan nie 'n goeie fyn sproei maak nie. Skud dit goed en dit is gereed om te gebruik. In hierdie druk pomp bly dit langer vars, maar as dit soos ou brood begin ruik gooi ek dit weg en maak vars stysel aan.

Ek kon nie rou stysel te koop kry nie en het toe ten duurste die kannetjie stysel gekoop.( Ek gebruik te veel stysel om net dit te gebruik.) Stysel help ook om 'n stewiger oppervlakte te gee as mens kwilt so selfs al sny mens nie die materiaal op die skuinste nie, is dit steeds voordelig om dit te stysel. Ek stysel net die materiaal wat ek gebruik want stysel kan glo vismotte trek-  maak dus seker dat die kwilt in wording daarteen beskerm is en was die kwilt by voltooiing.

'n Ander voordeel van die gebruik van stysel en stoom is, as die materiaal goed nat gemaak word, krimp dit. As jy nie jou materiaal vooraf was nie- is hierdie stap nodig om dit te krimp. Dit is veral voordelig wanneer mens klaar geknipte stroke soos Jelly Rolls gebruik wat jy nie kan was nie.

Mens kan die stysel mengsel sterker of flouer aan maak. As jy met 'n baie pap materiaal werk kan jy meer stysel gebruik (2-3 teelepels op 'n koppie water). Wanneer mens stysel gebruik om die randjies van appliek in te vou en oor freezer paper te stryk, is 'n flouer stysel mengsel beter. Indien 'n puntjie op die rand gepars is waar mens 'n egalige ronding wil hê, is dit makliker om dit te herstel as 'n flouer stysel mengsel gebruik word.

Vir masjien appliek werk is stysel ook noodsaaklik om die materiaal te stabiliseer sodat die satynsteke dit nie uit proporsie trek nie. Dit verleen ook stabiliteit as mens sierstiksels op materiaal maak- 'n afskeur stabiliseerder is ook noodsaaklik, maar as jou materiaal self gestysel is, is die resultate net soveel netjiese. Ek stysel ook al my materiaal wat ek vir digitale borduurwerk op my masjien gebruik. Viva Stysel!

Alles wat mooi is


Marié du Toit

2 comments:

  1. Marié ek is net so 'n voorstander van stysel en onthou as jy weer kortkom dat liewe ou Maizena net so goed werk.

    ReplyDelete
  2. Marié, ek is baie bly ek het jou blog ontdek. Dis heerlik om in Afrikaans oor kwiltwerk te lees. Ek hoop regtig jy is baie doenig op jou blog! Sien met groot afwagting uit na nog!

    ReplyDelete