'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Monday, June 25, 2012

Is kleur keuses moeilik?

Toe ek 30 jaar gelede begin laslapwerk doen het, was ons grootste probleem om geskikte materiaal in die hande te kry. Om materiaal van die VSA te bestel het die verkryging van 'n banktjek behels- wat 'n beslommernis was dit net nie! Hier in die Kaap kon ons uit die klein verskeidenheid materiale van Biggie Best kies. Verder het ek by Sacks & Futeran (ai waar is daardie ou winkel van ons!) geskikte Da Gama materiale uit gesoek.Wat 'n vreugde toe die Suid Afrikaans vervaardigde Percy Burlin reeks op die mark gekom het. 


Ons het dit nie toe besef nie, maar die beperkte keuse het dit vir ons eintlik makliker gemaak. Dit was defnitief nie oorweldigend soos wat nuwe kwilters vandag moet ervaar nie.
Ster: hoofsaaklik Percy Burlin materiale

As gevolg van die beperkte materiaal keuse en my onervarenheid het ek aanvanklik 'n monochromatiese kleurskema gebruik. Mens kan nie eintlik 'n fout maak as jy net pink lappe gebruik nie?  Die patroon/ontwerp  in 'n monochromatiese kleurskema sal net duidelik uitstaan as mens seker maak dat daar genoeg verskil tussen ligte, medium en donker materiale is. Die essensiële vaardigheid het ek  dus op hierdie wyse aan geleer.


Ek het baie gesukkel om die konsep van 'n agtergrond mooi te verstaan. Ek wou graag 'n verskeidenheid lap gebruik soos aan beveel deur my geliefkoosde skrywers van daardie tyd, Beth Gutcheon en Jinny Beyer. Ek het dan soms 'n ligte en 'n medium materiaal as agtergrond gebruik. Dit het gelei tot snaakse vorms in die agtergrond wat my patroon versteur het. Aanvanklik het ek Laslap blokke gemaak en dit in kussings gebruik. Ek kon dus na my handewerk kyk wanneer ek in my sitkamer ontspan het. Op hierdie manier het my eie werk belangrike lesse aan my geleer.
Dit is min of meer soos dit gelyk het- met die versteurde agtergrond.


Mens leer maar net die beste deur te doen, en dan jou werk te bestudeer. Beginner kwilters gee graag hul werk weg. Sorg dat jy genoeg kwilts vir jouself maak en dit gebruik sodat jy die lesse wat jou kwilts jou kan leer kan ervaar.


Alles wat mooi is
Marié