'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Sunday, March 10, 2013

Moderne Kwilts

Ek was 'n bietjie awesig van my blog, maar is met nuwe voornemens gereed om weer bietjie hier te skryf. Ek is lekker besig met allerhande projekte. Aan die einde van die maand gee ek klas by Dot's Quilts met die tema "Moderne Kwilts". Dorothy is mal oor moderne lappe en haar winkel het 'n wye verskeidenheid van hierdie soort materiale.

Kwilters wat in hierdie genre werk sê dit is moeilik om die moderne kwilt in woorde vas te pen, maar as jy dit sien, sal jy dit erken. Daar het al heelwat boeke oor die onderwerp verskyn en nou is daar ook 'n tydskrif wat hieraan gewy word, beskikbaar. Quiltcon is van 21-24 Februarie in Austin Texas deur die Modern Quilt Guild aangebied.

Alhoewel baie moderne kwilters kunskwilts maak, is daar net soveel wat kwilts maak om gebruik te word en as "binneversierings" items gebruik word om by te dra tot die dekor van 'n huis. Moderne materiale het dikwels groot motiewe in verskillende kleure gedruk. Die kleure is vars helder kleure sonder grys of bruin wat in die kleur vermeng is. (Daar is natuurlik ook uitsonderings) Die materiale word dikwels met wit materiaal gekombineer om 'n sterk kontras te vorm. Die kwilt ontwerp is eenvoudge las pante soos vierkante of reghoeke. Daar word nie tipiese blokke soos byvoorbeeld sterre gemaak nie. Weer eens is daar ook uitsonderings en dit is nie te sê dat mens dit nie kan doen nie.

Hier is 'n baie mooi Dear Jane kwilt wat met Kaffe Fasset materiale gemaak is.

Vir hierdie klas gaan hierdie kwilt met die "octagon" of Melon Patch blokke gemaak word. Die sukses van die kwilt word bepaal deur die materiaal kombinasies. Daar is ook 'n paar kleiner dingetjies waarna mens moet oplet. Die patroonplaat vir die Oktagon kan maklik verkeerd op die materiaal neer gesit word en dan word die pante nie korrek gesny nie. Die driehoeke moet ook aan die skuinssye vas gewerk word en nie op die sye wat op die draadrigting gesny is nie- dit sal verkeerde resultate gee.

Hierdie maklike kwilt bied aan mens die geleentheid om "mindful" te werk. Wanneer mens op iets konsentreer word verbindings in die brein gevorm. Dit help om die brein te verjong. So wanneer jy met jou laslapwerk doenig is, raak daarin verdiep en konsentreer daarop- slaan die dwalende gedagtes hok, vir 'n nuwe brein.

Alles wat mooi is vir 'n jong vars brein

Marié