'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Tuesday, August 13, 2013

Love Entwined

Ek is saam met 'n hele klomp kwilters op 'n reis. Ons maak 'n kwilt wat Esther Aliu ontwerp het en gebaseer is op 'n historiese kwilt  (eintlik 'n "coverlet") Vir my, wat hoofsaaklik met die masjien werk (alhoewel ek ook elke jaar 'n kwilt met die handlas) is so 'n handappliek kwilt werklik 'n uitdaging. Hierdie kwilt word as 'n BOM beskikbaar gestel, maar mens moet aansluit by die Yahoo groep. In hierdie groep is daar baie kundigheid en die kwilters plaas ook tutoriale op hulle blogs oor hoe hulle die uitdagings aan pak.

Ek kan 'n mooi onsigbare applieksteek maak. Ek kan goed "needle turn" doen. Ek sukkel met die vooraf voorbereiding wat sommige appliek ontwerpe vereis. Ek haat gom. Die strykyster en stysel is my tegniek van keuse, maar ek brand met die groot strykyster en die kleintjie wil nie warm genoeg word nie.

My grootste probleem is om die appliek stukkie op sy plek te kry. Ek gebruik die "overlay" tegniek, maar dit werk nie in alle gevalle nie. Ek is egter bereid om die uitdaging te aanvaar, maar soos gewoonlik moet ek my eie stempel hierop afdruk. Gelukkig gee Esther aan ons daardie vryheid om haar patroon op ons eie manier te interpeteer.

Die kwilt begin met 'n kompass en is so reg in my kraal. Ek het al baie gemaak, maar nog nie een waar die agtergrond so verskil en in pantjies verdeel is nie. Ek weet al dat die materiaal keuse in 'n kompas dit kan maak of breek. Die agterste puntjies (kleintjies) moet dowwer word, maar die uitdaging is dat elke "laag" puntjies steeds sal uit staan. Nou is daar nog die agtergrond wat ook kompeteer vir aandag.
Links is die "foutiewe" kompas

Met my eerste kompas voltooi is dit duidelik dat die agtergrond te donker is en die aandag van die kompas aftrek. Ook vloei die kleur van die kleinste puntjies en die punte voor dit in mekaar en kan jy dit byna nie onderskei nie. 'n Tweede keuse word gemaak en die kompas word weer gestik. Ek gebruik die Freezer papier metode van Judy Mathieson. Die pante word opdie gemerkte  freezer papier gestryk. Dan vou ek die papier weg en stik met die vou as gids. Die pant word dan weer op die papier gestryk en die volgende deel weg gevou. Op die manier word nie deur die papier gestik nie en kan die papier maklik verwyder word. Die vasstryk op die papier verleen stabiliteit en maak dit moontlik om die skerp puntjies akkuraat te kry.

Tog is daar hier en daar 'n punt wat nie presies reg is nie en toe ek die ring appliek moet ek hiervoor voorsiening maak. Appliekwerk vergewe sekere foute moeilik. 'n Ronde sirkel wat nie presies rond is nie is baie opsigtelik. Op die sirkel rand moet 'n klomp klein sirkeltjie appliek word. Ek weet nou al- dit moet maar wag tot later. Dalk kies ek ook knope of "sequins" as uitweg. As die sirkeltjies nie presies is nie gaan dit die hele voorkoms bederf.

Ek kry drie mooi stukke Indonesiese lap by die Bloemfontein fees by Leslie Pahl se stalletjie. Ek sien onmiddelik dat ek hierdie appliek uitdaging kan vereenvoudig met Broderie Perse. Ek sal van hierdie gedrukte blomme gebruik in plaas daarvan om al die klein appliek werkies met baie deeltjies te maak. Jy kan dit as "cheat" beskou- vir my is dit die ideale oplossing vir 'n onervare appliek kwilter. Dalk bemeester ek die kuns van appliek beter as ek 'n makliker uitweg kan volg.

Rondom die kompas wyk ek af van die patroon. Ek appliek 'n reguit kabeltjie. Ek vou die binnerand in waar die kabel vleg sodat 'n reguit strook materiaal nou in 'n sirkel appliek kan word. Ek wys die half gewerkte projek vir my kwilt vriendinne. Hulle sien dadelik dat die deel wat ek nog moet vas werk nader aan die kompas sal wees. Rita voel ek moet uittrek. Ai ek het dan so mooi die buite ring gemerk. Dit is nou presies die uitdagings van appliek werk wat ek nog nie bemeester het nie. As ek dit vas gewerk het- is dit nie op die regte plek nie. Die probleem is dit: Ek moet dit nou op 'n groter ronding pas en sal dit nie kan inpas nie- ek gaan 'n kwart kabel kort. So dit moet maar so bly. Iemand stel voor dat ek net meer van die naattoelating invou sodat die opening wat die agtergrond blootstel korrek is.

Nou skuif ek dit eers bietjie op die agtergrond, maar nie vir lank nie want ek is ver agter en die derde deel is die 15 de op die Yahoo groep beskikbaar. Julle moet spring as julle wil deel neem. Wanneer die nuwe instruksies verskyn word die vorige twee dele af gehaal. Dit is dan teen betaling beskikbaar in Esther se Etsy winkel.

Besoek gerus haar blog en verlustig julle in hierdie meesterstuk.

Alles wat mooi is
MariƩ