'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Monday, August 15, 2016

Ander dinge

Ek gaan Ouma word- wat 'n lekker gedagte en vooruitsig. Annake moet self die baba kwilt maak (dalk kan ek haar belangstelling prikkel in laslapwerk?) so ek hekel. My keuse vir 'n baba kombers was seker nie die regte een vir 'n baba nie- dis nie sag en "cuddly" nie. 'n Ander kwilter by ons GHQG het Saterdag voorgestel dat dit 'n vloer kombersie word want dit is lekker dik. 'n Puik voorstel- ek hekel dit van 'n akrieliese wol (Gold) en dit is dus maklik wasbaar.

Mandala Madness van Helen Shrimpton
My skoonseun wou nie baba pink, blou of enige pastel kleur gehad het nie. Hy hou van neutrale kleure maar ek kon nie sonder 'n bietjie rooi om dit op te vrolik nie? Hierdie patroon word op die Facebook groep OFFICIAL CCC SOCIAL GROUP as n saam werk projek aangebied. Alhoewel die laaste aflewerings reeds gedoen is, is die patroon nog op Helen se webtuiste beskikbaar en dit is gratis. Ek het so baie nuwe maniere geleer om steke te maak soos die "back post" en die oorvou van "trebles" goed wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie. Ek sou dit nie baas geraak het sonder Esther se videos nie. Al die werk wat hierdie Hekel mense doen is gratis op die internet beskikbaar.

Ek wou eintlik Dedri Uys se Sophie's Universe hekel maar dit is so mooi in die helder kleure en ek wou dit dan liewer vir myself hekel. Intussen het ek so baie hekel projekte waaroor ek mal is dat my handlas werk seker bietjie af geskeep gaan word die volgende kompie maande. Ravelry is n heerlike webwerf waar mens as lid aansluit en baie gratis patrone kan aflaai. Op jou profiel hou jy dan ook boek van al die projekte wat jy wil aanpak enkan jy nie daarvan vergeet nie.

Ek het ook lekker katoen draad en katoen en Bamboo mengsels asook wol mengsels by Kleen Eezy en  die "Hobby" winkel in Northumberlandstraat in Bellville gekry. Daar is n Suid Afrikaanse vervaardiger wat ek nie ken nie met al hierdie wonderlike mengsels:African Expressions. So ek het al die wolle reg vir nog 3 projekte!

Vou Blokkies


Dit is altyd lekker om n klas te loop. Nel Scheffers het n klas oor 'n blokkie speelding by Alta se winkel (The Fabric Contessa) op hul plaas in die Paarl, aangebied en natuurlik moes "ouma" dit gaan bywoon. Ons het sommer Alta se nuwe klaskamer ingewy. Wat n heerlike plek vir so n klas. Soos altyd is n klas gesellig en kuier n mens tog te lekker saam met almal en hoor al die nuus.



Ek het nie my blokkies met n oorhand steek vas gewerk nie maar met n oop naat. Net die laaste naatjie het ek met die "ladder" stitch toe gewerk. Dit het lekker vinnig gegaan en die blokkies geniet soveel aftrek van ook groot mense dat ek nog n paar sal moet maak.

Lekker las, hekel of watter kratiewe projek jy mee besig is. Maak dit Mooi.

Marié du Toit

Saturday, July 16, 2016

My Kwilt Groei

Een van die lekkertes van 'n kwilt maak, is as dit so onder jou hande utiswel om 'n kwilt te word. Alhoewel daar nog baie werk in my La Passacaglia moet in gaan, kan ek al so 'n idee kry van hoe dit sal lyk. Die vier groot rosette is gemaak- 3 van hulle kort nog hul halfsirkel sterretjies wat buite om moet kom. Die grote in die linker onderste hoek, het sy sterretjies om en ek het ook al 4 kleiner rosette aangeheg.

Toe ek nou die rosette rondom die 4 grotes uitpak, vermis ek tot my skok 4 rosette. Ek weet dat ek 33 gehad het- ek het dit oor en oor getel. Al waar ek dit kon verloor het, is toe ek dit by Boland vergadering demonstreer het. So ek hoop iemand het dit vir my veilig bewaar en dat ek Woensdag daarmee sal kan herenig. Anders moet ek nog 4 maak en my materiaal is maar skraps, ek sal dit dalk een vir een moet uitsny.

Die een nadeel van handlaswerk is dat mens vergeet om dit op jou "design wall" te sit. (my naaldwerk kamer is buite die huis en my handwerk doen ek in die huis). Mens kry defnitief n ander perspektief as jy van n afstand daarna kyk. So het ek eers gesien toe ek dit hierop uit gepak het dat die groen sterretjies met die pentagone kan saamsmelt (soos in die groot linkerkantste roset). Die geel sterretjies lyk nou vir my snaaks met die ligter geel diamante as agtergrond, of lyk dit net anders? Ek beplan om die diamante wat die agtergrond van die sterretjies vorm, donker te maak vir die rostte op die buiterand.

Ek het al n paar keer verkeerd gewerk en was nogal verbaas oor hoe moeilik dit was om uit te trek. My handlas stekie is na 32 jaar van handlas werk klein en stewig. Indien ek pante sal wil vervang sal dit miskien makliker wees om die alternatief te appliek.

Met al die rosette uitgepak moet ek nou baie vinnig aan hierdie projek werk- my Dear Jane/Liewe Hedwig blokke is ook op die sagte bord uitgepak en ek wil ook daaraan werk, (Ek het net 'n laag watteersel oor gesit), As ek nie vinnig genoeg kan las nie sal ek maar die rosette op die watteersel moet vasspeld en dit eers opvou.

Ek probeer verseker dat die oorwegend pink en oorwegend groen rostte goed versprei is. Sal dalk moet begin rond skuif as ek die ander 4 gevind het.

Hierdie projek stel baie uitdagings, Dit vereis fyn werk, netjies speld en goed kop hou. Natuurlik is dit deel van die lekker- niks verveligs aan die projek nie- dis verseker!

Geniet jou laswerk!
Marié

Monday, June 20, 2016

Nog bietjie oor La Paz

Ek het Woensdag 'n bietjie my werkswyse vir Willyne Hammersteins se kwilt: La Passacaglia by ons gilde gedemonstreer en het besef dat alhoewel ek al hier daaroor geblog het, is daar nog meer te sê. Ek wil graag ook vir die Boland Gilde die inligting hier by mekaar gee so sal dalk herhaal wat ek in my vorige blog geskryf het.

Ek dink almal wat hierdie kwilt maak, maak gebruik van motiewe wat op n fuzzy cut metode uit materiaal gesny word. Waar my werkswyse van ander kwilts wat ek op die internet sien verskil, is dat ek hoofsaaklik een materiaal, deur Jane Sassaman ontwerp, gebruik het. Ek het vyf herhalings van die materiaal identifiseer. (Ek kon baie meer herhalings kry maar dan sou dit kleiner stukkies wees en mens verloor baie lap op die buiterand waar motiewe deur gesny word) As jy een materiaal vir jou La Paz wil gebruik maak seker dat n herhaling ongeveer 60-80 cm groot is, anders sal jy nie genoeg eenhede kan sny nie.

Ek dui die herhalings met skêr en pen aan

Ek het vyf identiese lae op mekaar gestapel net soos wat mens sou doen as jy n "One Block Wonder" of "Stack n Wack " kwilt sou maak. As ek dan my pantjies uit gesny het, het ek 5 identiese ontwerpe gehad. Mens moet net onthou dat jy 5 ontwerpies vir die middelste "ster" benodig maar 10 vir die pentagoon rand wat daarom gaan. Hierdie tien kan van twee identiese ontwerpe geknip word. Mens kry eintlik baie interessante resultate as jy dit van spieëlbeelde kan sny. Nie alle materiale het simmetriese ontwerpe waar mens dan ook n spieëlbeeld kan sny soos hierdie lieflike materiaal van Jane Sassaman nie. So as jy spesiaal materiaal gaan aan koop kyk of jy een kan kry wat aan jou die opsie bied.



Baie ander kwilters het elke sirkel uit 'n ander materiaal en kleur gemaak. My sirkels is uit dieselfde materiaal maar party is meer groen, blou of pink afhangende van watter motiewe uit die Jane Sassaman materiaal wat ek gebruik he,t gesny is, asook die kleure wat ek daarmee kombineer het.

By The DIYaddict  stel Karen voor dat mens eers n paar van die kleiner sirkels maak- die 5 diamante met die 5 smaller diamante en die 10 pentagone, sodat mens eers' n gevoel kry van wat die materiaal waarmee jy werk kan doen en ook watter effekte die beste werk. Dit is baie goeie raad. Ek het al 33  kleiner Rosette gemaak voor ek met my 4 groot Rosette begin het.

Ek het gesien dat alhoewel enkel ontwerpe mooi lyk, is dit veral die interaksie wat die pantjie met die een langs hom het wat besonderse resultate lewer. Ook kan lyne wat in 'n rigting gaan die oog lei om oor die ontwerp te beweeg. Vaste ontwerpe soos blommetjies kan die kwilt baie besig maak omdat dit 'n spikkel effek lewer. As dit al is wat mens gebruik kan dit uiteindelik steurend wees omdat jou oog nêrens 'n rusplek op die kwilt oppervlakte het nie.

Daar is net 4 groot Rosette en net drie van hulle het 'n volle sirkel sterretjies. Slegs een kleiner Rosette het n volle sirkel sterretjies. Slegs die groter Rosette het dan ook kleiner sirkeltjies van 6 pentagone. Dit hoef nie noodwendig in sirkeltjies gerangskik te word nie en mense kry wonderlike effekte met wat hulle doen. Ek het die naweek myne beplan en die pantjies daarvoor gesny.
Die groot onvolledige Rosette

Dit hang af watter ontwerpe mens hier aan pak, hoeveel groot pentagone mens benodig.(Soms tot 24 van dieselfde of ek het ook 18 en 18 spieëlbeelde benodig.) Almal was toe nie identies nie maar ek kon dit maak werk.  Dit het dus sorgvuldig tel gekos en areas uitsoek om daardie pantjies te sny. Moet dus nie al jou pentagone aan die begin sny nie, sny soos jy aangaan en sien wat werk en sorg dat n groot stuk van die 5 lae materiaal nog beskikbaar is om die variasies wat in hierdie 4 groter Rosette nodig is te kan sny.


Hier is nog n paar skakels:

Die boek is te kry van Quilt Mania

Allyson Richbieter verkoop die boek en patroonplate by haar Craf Academy,

Daar is heelwat Pinterest plekke waar mens n verskeidenheid van die kwilts kan sien soos ook hier en hier

Dit is goedkoper om in dollar te koop as in pond maar hier is n Engelse skakel vir die wat wel daarin belangstel

'n Artikel deur Love Patchwork

'n Blogger Sharon  beskryf hoe sy die proses aangepak het.

Nog van die Rosette



Ek hoop ek kon julle belangstelling hierin prikkel. As jy nie self een wil maak nie weet jy nou waaroor al die internet opgewondenheid gaan!

Lekkeer Las
Marié

Sunday, May 15, 2016

Hulp uit n ander oord

My Simply Sixteen is in werking en binne drie weke het ek drie kwilts klaar gekwilt. As ek meer tyd net daaraan kon wy sou ek al baie meer voltooi het. Ek het hope half klaar kwilts so ek sal die Simply Sixteen nog lank kan besig hou.
Ek het n baie dik wol watteersel gebruik en sou dit moeilik gekwilt het as ek nie die Simply Sixteen gehad het nie. (Ek het dit op my Bernina raam begin kwilt, maar kon net n halwe blok op n slag kwilt- die spasie was nie voldoende nie.)

Ek het vergeet om ook tussen die blokke in die "ditch" te kwilt. Die raam hou dit so mooi in posisie dat mens nie altyd besef jy het nie die noodsaaklike "onsigbare" kwiltwerk gedoen nie. Uit die raam pof die ongekwilte areas en mens kry dan "distortion" wat die blokke ongelyk laat wertoon. Ek sal dit nou met my masjien en "walking foot" doen.

Ek het gewaag om die vere in n ligter garing te kwilt. Dit is meer sigbaar. My kwiltwerk is nog nie eintlik goed genoeg om dit te doen nie, maar die kwiltjie is vir myself en ek wil graag die vere sien.
In die tussen tyd het ek nog n kwilt begin en reeds amper voltooi. Ek neem  dikwels boeke by die gilde se biblioteek uit en tog beënvloed dit nie my kwilt werk nie. Voor mens nie n projek aangepak het wat die boek voorstel of n tegniek beproef het nie, sal die boek geen invloed hê nie. Die laaste twee boeke wat ek uit geneem het, het my laat besluit om weer bietjie my boeke te "doen".

Uit die een boek:"Quilt the Seasons" van Barbara K Baker (lyk my nie dit is meer in druk nie) het ek die idee gekry om elke maand iets aan te pak, al is dit dan net iets kleins. (Ja as ek elke maand' n nuwe kwilt begin sal ek 12 half klaar kwilts hê teen die einde van die jaar- en as ek nie op pas nie stuur ek daarop af!) So julle sal dalk dink dat ek nie die aanmoediging nodig gehad het nie!

Uit die ander boek Red White and Sometimes Blue, Classics from Mc Call's Quilting het ek die voorblad kwilt begin. Ek is mal oor rooi en wit kwilts en so spyt dat ek nie die wonderlike uitstalling van Rooi en wit kwilts wat n paar jaar terug in New York gehou is, kon bywoon nie. Die boek oor hierdie uitstalling en kwilts is nou te koop en ek beplan om dit aan te skaf.

Die kwilt wat ek maak het gelaste blokke afgewissel met wit blokke. Aangesien ek nog nie so goed kwilt op my Simply Sixeen nie en ook baie borduur patroontjies het en graag borduurwerk met laslapwerk kombineer, was dit n maklike besluit. Borduur "redwork" patroontjies op die wit blokke. Ek het twee stelletjies een met hoendertjies en  die ander bosse blomme gekies om op die wit blokke te borduur. Nou na twee weke moet ek net die laaste nate stik en die raam om sit. My rooi materiale is nou baie min en daar is nie materiaal vir n raam in my kas nie- so dit sal ek nou spesifiek moet gaan soek. Wat n lekker werkie!
Die kordate hoendertjies is tog te mooi.
Alhoewel my Simply Sixteen nie nou n kwilt op het nie (Ons gaan bietjie Nampo toe) beteken dit nie ek het niks om te kwilt nie! Die kwilt wat ek vir Stefniek gemaak het is  net soek. Ek het my naaldwerk kamer al om gekeer en ook in die huis gesoek. Ek kan net nie dink wat ek daarmee as ook met die blou langhaar materiaal wat ek as agterkant wil gebruik, gemaak het nie. Ek wou dit nou kwilt maar as ek terug is van Nampo en dit nog nie kan vind nie sal my scrap kwilt wat al 25 jaar gelede voltooi is en wat ek al begin kwilt het, nou eers plek op die raam kry.

Hoop jy geniet ook jou kwiltwerk.

Marié


Monday, March 21, 2016

Dis al Maart

As die jaar so spoed optel soek mens die brieke. Die eerste skoolvakansie van die jaar het aangebreek en ek het iets  om oor te bieg. Ek het n nuwe projek begin. Ja ek weet ek het klaar te veel projekte! Dit help my geestes gesondheid om nuwe goed aan te pak, dan is ek gemotiveerd en besig. Die belangrikste is om n sekere momentum op te bou en dan laat waai ek. My projek is die Sundial kwilt en ek rapporteer daaroor by my ander blog.


My Pasagaclia vorder ook mooi. Ek het vir twee rosette die sterretjies bygevoeg en dit lyk nou so:

Hier wou ek die individuaele sterretjies laat uit staan

Ek gebruik Tina van der Walt se idee om die hele Rosette soos n groter ster te laat lyk.
Hierdie sirkel laat ook die middelste deel blom en tot sy reg kom. Ek het n skeurtjie in my Retina op gedoen en sukkel bietjie met die fyn werk want ek kan nou net met een oog fokus. (Vir eers tot die bloed in my ander oog op geklaar het)

Ek het twee weke gelede die Bootcamp wat deur Claire Wallis en Stephanie Geldenhuys vir ons hier in die Kaap aangebied is, by gewoon. Dit het die knoop vir my deur gehaak en my Simply Sixteen is oppad!  Ek glo die masjien sal aan my behoeftes voldoen. Ek wil nie vir ander mense kwilt nie en wil ook nie Pantographs kwilt nie. As ek n dikker wol wateersel gebruik sal die 16 duim dalk bietjie smal wees as mens na die onderkant van die kwilt gaan, maar dan draai jy dit maar net om sodat jy altyd net n boonste helfte kwilt.

Hoop om julle gou te wys wat ek daarmee kan uitrig.

Geniet jul Las en Kwilt werk.

Marié



Wednesday, February 3, 2016

Vier uit Sewe

Miskien moes ek nie so baie projekte vir Januarie gelys het nie, dan het ek beter gevaar. Tog is ek tevrede met wat ek uit gerig het. Vanoggend het ek na n week en n half weer die eerste keer in my naaldwerk kamer gekom.(Daar was net elke dag iets anders wat ek moes doen.) In die tussentyd het ek darem goed aan my Handlasprojek gewerk en ek het nou in totaal 21 middel gedeeltes voltooi en 4 is half voltooi.

My kwilt op die raam het ek glad nie aangepak nie en Dear Jane sal ek volgende week takel.
Die Sew n Row sterre het ek voorberei vir Boland gilde maar was bietjie siek en het toe die sorgvuldig voorbereide laswerk in my naaldwerkkamer vergeet. Dit is n maklike ster maar soos alle laslapwerk kan dinge skeef loop as mens nie elke fase korrek uit voer nie. Ek moes n paar keer uittrek!
Sew a Row met Spinning Star in onderste ry

Ek het nie een nie maar twee kinder kwilts gemaak. Siegfried se kwilt is klaar en sal more na hom gestuur word. Stefnik se kwilt moet voor 13 Februarie klaar wees want dan verjaar hy. Die blou langhaar sagte materiaal wat ek vir agterkant en Batting gebruik het is baie rekkerig en het nie mooi hanteer nie. Ek sal n ander plan maak wanneer ek Stefnik se kwilt voltooi. Die baba kombers wat ek gemaak het, het mooi gekom, maar hierdie groter kwilt op die rekkerige materiaal wou nie lekker werk nie.

By Boland gilde gaan ons in groepe aan trooskomberse werk sodat ons n kwilt het om aan n lid wat siek raak te gee. Ek koordineer die Stellenbosch/Somerset Wes en Malmesbury groep. Ek het besluit om Katja se New Hexagon met die groep te doen. Ons gaan die kwilt met die masjien maak. Rita het al haar Rosette 4 voltooi. Kyk hoe mooi!
My plan vir Februarie is dan:
1. Die kwilt op die raam moet ek die maand aanpak.
2. My Dear Jane/ Liewe Hedwig kwilt gaan ek volgende week uit sorteer. Ek moet die blokke en instruksies vir die klas op 10 Februarie maak en opstel. Dan wil ek die blokke wat ek half voltooi het klaar maak en die rand en hoeke aan mekaar begin vas werk. Ek wil ook die masjien appliek doen.
3. Ek gaan voort met my handlas Millefiori
4. Stefnik se kwilt moet klaar kom
5. Katja's Quilt: ek help Boland lede teen die einde van die maand met hul blokke en sal daarvoor voorberei.
Ek beplan niks nuut vir Februarie nie maar hoop om by hierdie lysie te hou.

Het jy jou planne reg vir Februarie? Het jy beter as ek gevaar met jou beplande Januarie projekte?

Las lekker!

Marié

Friday, January 15, 2016

Vir die manne in my lewe

Daar is twee klein mannetjies in my lewe wat elk n kwilt moet kry. So voor dit net by beloftes en voornemens bly het ek aan die werk gespring. Vir 'n kinder kwilt is prentjies altyd n goeie begin punt. Dit maak hul slaap kombersie sommer n storiekombers en 'n lekker aand geselsie met wie hul ook al in die bed sit.

Ek versamel prentjie lap en weet presies op watter rak dit is. Behalwe dat ek verlede jaar die rak reg gepak het. Ek het gedink en gedink, waar sou ek dit gepak het. Einde ten laaste het ek maar begin soek. Op alle moontlike en onmoontlike plekke gekyk. Die leer gaan haal en houers bo uit die kaste gehaal. Toe sommer materiaal gekry wat ek in die komberse kan gebruik.

Ook kry ek die lekker sagte langhaar materiaal wat ek juis vir my kinderkwilts gekoop het. Dit gebruik ek as watteersel en agterkant. Ek het met my kinders gesien dat hulle nie so lief vir hul kwilts was al het dit n flennie agterkant gehad. Die langhaar sagte kombersies was altyd hul keuse. Ek hou nie eintlik van sintetiese lap nie- ek glo dis plastiek en sweterig. Hier moes ek swig as ek wil hê my kwiltswat  met liefde gemaak is, moet gebruik word.

Die prentjielappe kry ek nie. Een of twee verdwaaldes wat by ander lappe is, kry ek wel. Gelukkig het ek twee prente lappe by Quilttalk gekoop toe ek deur George huis toe gekom het van my vakansie by Buffelsbaai. Ek kry ook 'n John Deere paneel en n almanak van 2008  paneel met prentjies wat bruikbaar is.

Die tweede stap is om die kwilt te ontwerp. Ek sien n kwilt wat uit eenvoudige en bietjie meer komplekse blokke bestaan in n nuusbrief van Jinny Beyer. Dit is n kwilt van Heather Spencer Dan's Climb. Sy het dit ontwerp as n Mystery en die patroon kan nou as geheel gekoop word vir fondse om kankerlyers te help met die kostes tydens behandeling. Ek gebruik dit as inspirasie om my Slangetjies en leertjies kwilt vir Siegfried te ontwerp.
Ek hou van strook laswerk. Dit is vinnig om te sny en te stik. My blok groote is 20 cm. Die prentjies moet rame om kry sodat dit 20 cm (plus naattoelating is- 21,5 cm) So dit is my eerste stap en ek kan dit op die ontwerp muur pak. Die groot checkerboard blokke is maklik om te maak met twee stroke van 11,5 cm wat aan mekaar gestik word en dan in skywe van 11,5 cm op gesny word.

Die slangetjies en leertjies blok is meer gekompliseerd en bestaan uit verskillende eenhede. Ek las drie stroke van 6,5 cm aan mekaar en sny dit in skywe op van 6,5 cm.(Dit is die middelste twee eenhede bestaande uit die groen, rooi en blou vierkante)


 Dit kan nie verder gelas word nie die leertjie eenhede moet ek eers maak.

Hier het ek n denkfout gemaak en ipv die vier stroke 4 cm breed te sny doen ek dit 4,5 cm. (As die 4 cm stroke aan mekaar gestik is, word dit in 4,5 cm skywe op gesny.) Weerskante van die skyfies kom n donker strokie 2,5 cm breed. (Ek sny dit maar net korter- die blokkies is dan nie almal ewe groot nie.) Gelukkig vergewe n kinder kwilt mens se foute-dis net nog n gesels onderwerp.

Aan die helfte van die leertjies kom 'n vierkant van 6,5 cm. Dit word dan aan 'n drieblok skyf van 6,5 cm gestik met 'n "leertjie" dwars oor die twee eenhede om die helfte van die blok te vorm. Twee helftes word aan mekaar gestik om die blok te voltooi. Die blok is nogal tydrowend om te maak. Met die blok voltooi kan ek dit op my ontwerp muur pak en die blokke aan mekaar stik.


Ek weet nie hoe ek gekyk het nie, maar ek het gedink dat die slangetjie en leertjie blok in enige oriëntasie kan wees en dit toe net uitgepak. Natuurlik toe dit klaar aan mekaar gestik is sien ek dat die maroon vierkante in die slangetjie en leertjie blok in verskillende rigtings wys. As dit n muurkwilt was, het ek dit defnietief uitgehaal en verander. Nou is dit net nog n gesels onderwerp vir Siegfried en sy Ma Hester. (Sy Pa, my boetie Danie is ongelukkig verlede jaar oorlede)

Ek besluit dat die Slangetjies en leetjies blokke interessant is maar die kwilt baie besig maak en nie noodwendig bydra tot die voorkoms nie. Die volgende kwilt vir Stefnic wil ek vereenvoudig en meer van die Checkerboard blokke gebruik en minder Slangetjies en leertjies. Pleks dat ek dit eers in my EQ7 program gaan probeer stik ek sommer die blokke. Die een geel is op en ek gebruik n ander geel materiaal. Aarde land, Liewe Heksie se gifappeltjies sal heerlik verdwaal in die kwilt!


Nee dit sal nie deug nie! Ek sal die blou materiaal behou (Gelukkig het ek baie daarvan) en dit met iets groen kombineer- of dalk n ligblou?



Ek dink ek kies die groen- dit pas beter by die materiale wat ek reeds in die kwilt gebruik het. Hopelik kan ek vandag ook die raam omsit. My naaldwerkkamer is n oond, my lugversorger kom hopelik Maandag maar tot dan moet ek maar so swetende werk as ek iets gedoen wil kry.

Hopelik werk jy gemakliker-  dan het jy nie n verskoning nie?Het jy al begin aan jou eerste kwilt vir die jaar?

Marié



Monday, January 11, 2016

La Passacaglia



Hierdie kwilt, wat kwilters oor die wereld inspireer is deur Willyne Hammerstein ontwerp. Ek het my boek en akrieliese  patroonplaat stel teen ongeveer R1300 uit Engeland bestel. Ek ontdek eers nou dat Allyson Rischbieter dit hier in Suid Afrika vir veel goedkoper beskikbaar het. Ek is so bly want nou kan ek ook bietjie klas gee as mense sou vra- sonder die beskikbaarheid van patroonplate en verkieslik ook die boek is dit onmoontlik om 'n klas aan te bied.


Millefiori Quilts

Vandat ek hierdie kwilt gesien het was ek gefassineer. Ek het die versoeking weerstaan om ook so n kwilt te maak maar het uiteindelik geswig. Ek is nie spyt nie. Dit is regtig lekker om iets so mooi onder jou hande te sien ontvou. Ek doen dit nie oor papiertjies nie(Allyson het ook die opsie van net patroonplate sonder die papier) maar met n oop soom. Wanneer mens die soort van werk doen is dit bellangrik om nooit in die naattoelatings te werk nie. Dit doen mens in elk geval nie as jy handlas nie. Met masjien werk sal hierdie patroon baie moeilik en tydrowend wees omdat die eenhede so klein is. Dit is nie onmoontlik om dit met die masjien te doen nie- daar is mense wat nou een maal nie van handwerk hou nie. So die belangrike ding is dat alle nate "vry" moet wees om in enige rigting te vou en dan ook oop kan vou om al die stukkies wat "in gelas" moet word sonder plooie te kan inlas.

Ek het oor die naweek nog 4 eenhede voltooi.


Die eenhede wat ek voltooi is slegs die middelste 5 punt ster, 5 diamant stukkies en die ring pentagone rondom. In die kwilt is daar ongeveer 33 sulke eenhede wat dan in verskillende grotes verder gewerk word. Daar is 4 groot eenhede met  kleiner eenhede in sirkels daarom. Die kleiner eenhede pas in mekaar en ook in die groter eenhede deurdat nie alle stukkies in die volgende ring gewerk word nie. My redenasie is: As ek die basiese eenhede voltooi het kan ek soveel makliker die eenhede bou op die regte manier.

Passacaglia Quilt by Willyne Hammerstein
Willyne bespreek ongelukkig nie in haar boek waar haar inspirasie vir die kwilt vandaan kom en waar sy die pentagoon ontwerp gekry het nie. Google het min ander pentagoon ontwerpe gegee as net hare. So volgens my is dit n kragtoer om n nuwe ontwerp vir kwilters moontlik te maak. Haar boek is eintlik vol van nog unieke ontwerpe wat ek ook brand om te maak.

Daar is baie verskillende maniere waarop kwilters hierdie patroon aanpak. Kyk op Pinterest en Instagram vir baie inspirasie. Willyne het n materiaal as haar inspirasie gebruik  waarvan sy identiese eenhede gesny het. Baie kwilters maak elke ring uniek en in n kleur kombinasie. Dan pas die verskillende kleurringe in mekaar om werklik asemrowende kwilts op te lewer.

Ek het al lank die materiaal van Jane Sassaman en ek het genoeg gekoop om  6 herhalings uit tekry. Vir hierdie kwilt benodig ek net 5 herhalings. Ek sny dus die materiaal soos in "Stack n Wack" (kyk na die You Tube video as jy nie weet hoe om dit te doen nie) sodat ek 5 lae materiaal wat almal identies is, op mekaar kan stapel. Ek hoef dus nie nou te "fuzzy cut" om 5 identiese eenhede te kry nie, maar sny net een maal  deur al vyf lae om die 5 eenhede te lewer. Ek gebruik hierdie materiaal oral waar 5 identiese eenhede benodig word. Vir die ringe rondom die ster het ek soms 5 eenhede en 5 spieelbeelde daarvan gesny om verdere interessante effekte te verkry.

My mikpunt is om einde Januarie al die basiese eenhede te voltooi. Ek hoop dis n lang maand- ons is al n derde weg en ek het al omtrent 11 voltooi. As ek een elke dag maak kan ek daar kom. Die gesegde: Hoe eet mens n olifant- stukkie vir stukkie, is ook waar van n kwilt. Dit is n groot onderneming maar as jy elke dag iets doen kan jy aan die einde van die jaar n voltooide kwilt hê. Mens moet net nie terug deins vir die grote van n projek en moedeloos wees voor jy begin nie!

Werk lekker aan jul projekte.

Marié



Wednesday, January 6, 2016

'n Nuwe Jaar en nuwe Planne

Hier by ons is n gesegde: Jou planne moet net nie op raak nie. Ek probeer dit nou gestand doen met n plan vir die nuwe jaar. Ek het baie projekte waaraan ek wil werk en baie half klaar projekte waaraan ek moét werk. Ek word egter gepootjie met te min lus en energie en nou ook die warmte en' n lugversorger in my naaldwerkkamer wat nie wil werk nie.

My blog is vir 3 jaar lank verwaarloos. Gelukkig het dit nog nie in die kuber ruimte verdwyn nie. Ek sal nou my blog gebruik om my verantwoordbaar te hou. Ek voel altyd ek kan nie blog as ek nie foto's het nie. Met my iphone is dit maklik om die fotos op die rekenaar te kry en met die probleem oor kom, kan ek sekerlik nie meer dit as verskoning gebruik nie. (Het nou eers weer gesukkel- maar hopelik weet ek nou hoe.)

Ek het besluit om net maandeliks planne vir die maand te maak. So my plan vir die maand is:

1.Werk aan die kwilt op die raam. Die laslapwerk is al seker in 2009 voltooi, maar dit word nou eers gekwilt. Ek het n dik wol watteersel wat ek vanaf Sneeuberg bestel het. (Hulle maak nou toe so help bie ek gee die link nie.) Dit word eintlik in motor stoffering gebruik. Dit sal baie moeilik wees om dit te kwilt as dit nie op die raam is nie aangesien die vreeslike pofferigheid veroorsaak dat die lae skuif en mens dan plooie in kwilt.

Op die raam dra die dik watteersel daartoe by dat die ruimte om te kwilt al hoe kleiner word. Ek het dus net die eerste twee rye blokke gekwilt en toe dit net af gerol om in die naatjies (ditch) te kwilt om die lae op mekaar te anker. Nou moet dit omgedraai word om die anderkant te kwilt en dan sal ek dit ook afhaal en draai om elke sy bo te kry en te kwilt.

Wat is die ander haak plekke? Die Bernina 830 gee n groter ruimte om te kwilt maar is nie gelukkig met die vorentoe en agtertoe bewegings wat ek van haar vereis om die vere te kwilt nie. As ek weer sien is die spanning uit of die garing breek of die garing maak n knop aan die onderkant. Die masjien is pas gediens, ek sit nuwe en ander soortige naalde in, gebruik al die garings wat ek het maar ek kry steeds probleme. Sulke tye is dit maar op my tande byt en beplan aan die langarm masjien wat ek graag wil koop.

2. My tweede projek vir Januarie is my handlas projek- "Millefiori soos ek wil" wat ek met Willyne Hammerstein se patroon La Pasagaclia aanpak. Hierdie projek sal my n paar maande besig hou. Ek werk saans daaraan maar moet werklik n punt maak om elke aand te werk anders sal dit nie klaar kom nie. My handlasprojek van verlede jaar is ook nog in dele omdat ek nie voldoende tyd daaraan spandeer het nie.



Dis so lekker om die kaleidoskoop effek te sien.


3. Ek moet n ster blokkie maak vir ons Boland gilde se "sew a Row" projek. Die inligting sal ek sommer op my blog sit sodat lede daarna kan kom kyk.

4. Dan moet ek ook voorberei vir die klas wat ek gee om die "Dear Jane" kwilt te maak.

5. Ek het materiaal gekoop om Katja se New Heksagon projek aan te pak. Ek het deur mekaar geraak daar in Quilttalk en net 5 herhalings gekoop ipv 6 soos ek vir hierdie projek benodig. Ek het begin met die projek maar is nie tevrede met die algemene voorkoms nie. Ek sal maar verder soek vir die regte materiaal en dan weer oor begin.



6. Hierdie kwilt is n Patroon wat ek op Craftsy gekoop het. Rita het my gehelp om die blomme in die middel te rangskik. Nou moet ek die raam vasstik en dan weer haar hulp kry om blomme op die raam te rangskik.
Blomme is darem net altyd mooi.


7. My laaste projek vir Januarie is n kinder kwilt vir Siegfried, my oorlede broer se 3 jarige seuntjie. Ek wil sommer ook n klas hier in Riebeek aanbied vir 'n kinder kwilt en die patroon bied lekker geleentheid om basiese dinge in laslapwerk te leer. Hier is my EQ voorstelling van wat ek beplan.
Beplande kinder kwilt
Nou ja as ek by al hierdie kwilts uitkom kan ek myself sekerlik op die skouer klop. Ons sal sien hoe ek vaar.

Is jou planne vir die nuwe jaar al reg?

Marié