'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Monday, January 11, 2016

La Passacaglia



Hierdie kwilt, wat kwilters oor die wereld inspireer is deur Willyne Hammerstein ontwerp. Ek het my boek en akrieliese  patroonplaat stel teen ongeveer R1300 uit Engeland bestel. Ek ontdek eers nou dat Allyson Rischbieter dit hier in Suid Afrika vir veel goedkoper beskikbaar het. Ek is so bly want nou kan ek ook bietjie klas gee as mense sou vra- sonder die beskikbaarheid van patroonplate en verkieslik ook die boek is dit onmoontlik om 'n klas aan te bied.


Millefiori Quilts

Vandat ek hierdie kwilt gesien het was ek gefassineer. Ek het die versoeking weerstaan om ook so n kwilt te maak maar het uiteindelik geswig. Ek is nie spyt nie. Dit is regtig lekker om iets so mooi onder jou hande te sien ontvou. Ek doen dit nie oor papiertjies nie(Allyson het ook die opsie van net patroonplate sonder die papier) maar met n oop soom. Wanneer mens die soort van werk doen is dit bellangrik om nooit in die naattoelatings te werk nie. Dit doen mens in elk geval nie as jy handlas nie. Met masjien werk sal hierdie patroon baie moeilik en tydrowend wees omdat die eenhede so klein is. Dit is nie onmoontlik om dit met die masjien te doen nie- daar is mense wat nou een maal nie van handwerk hou nie. So die belangrike ding is dat alle nate "vry" moet wees om in enige rigting te vou en dan ook oop kan vou om al die stukkies wat "in gelas" moet word sonder plooie te kan inlas.

Ek het oor die naweek nog 4 eenhede voltooi.


Die eenhede wat ek voltooi is slegs die middelste 5 punt ster, 5 diamant stukkies en die ring pentagone rondom. In die kwilt is daar ongeveer 33 sulke eenhede wat dan in verskillende grotes verder gewerk word. Daar is 4 groot eenhede met  kleiner eenhede in sirkels daarom. Die kleiner eenhede pas in mekaar en ook in die groter eenhede deurdat nie alle stukkies in die volgende ring gewerk word nie. My redenasie is: As ek die basiese eenhede voltooi het kan ek soveel makliker die eenhede bou op die regte manier.

Passacaglia Quilt by Willyne Hammerstein
Willyne bespreek ongelukkig nie in haar boek waar haar inspirasie vir die kwilt vandaan kom en waar sy die pentagoon ontwerp gekry het nie. Google het min ander pentagoon ontwerpe gegee as net hare. So volgens my is dit n kragtoer om n nuwe ontwerp vir kwilters moontlik te maak. Haar boek is eintlik vol van nog unieke ontwerpe wat ek ook brand om te maak.

Daar is baie verskillende maniere waarop kwilters hierdie patroon aanpak. Kyk op Pinterest en Instagram vir baie inspirasie. Willyne het n materiaal as haar inspirasie gebruik  waarvan sy identiese eenhede gesny het. Baie kwilters maak elke ring uniek en in n kleur kombinasie. Dan pas die verskillende kleurringe in mekaar om werklik asemrowende kwilts op te lewer.

Ek het al lank die materiaal van Jane Sassaman en ek het genoeg gekoop om  6 herhalings uit tekry. Vir hierdie kwilt benodig ek net 5 herhalings. Ek sny dus die materiaal soos in "Stack n Wack" (kyk na die You Tube video as jy nie weet hoe om dit te doen nie) sodat ek 5 lae materiaal wat almal identies is, op mekaar kan stapel. Ek hoef dus nie nou te "fuzzy cut" om 5 identiese eenhede te kry nie, maar sny net een maal  deur al vyf lae om die 5 eenhede te lewer. Ek gebruik hierdie materiaal oral waar 5 identiese eenhede benodig word. Vir die ringe rondom die ster het ek soms 5 eenhede en 5 spieelbeelde daarvan gesny om verdere interessante effekte te verkry.

My mikpunt is om einde Januarie al die basiese eenhede te voltooi. Ek hoop dis n lang maand- ons is al n derde weg en ek het al omtrent 11 voltooi. As ek een elke dag maak kan ek daar kom. Die gesegde: Hoe eet mens n olifant- stukkie vir stukkie, is ook waar van n kwilt. Dit is n groot onderneming maar as jy elke dag iets doen kan jy aan die einde van die jaar n voltooide kwilt hê. Mens moet net nie terug deins vir die grote van n projek en moedeloos wees voor jy begin nie!

Werk lekker aan jul projekte.

Marié



No comments:

Post a Comment