'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Wednesday, January 6, 2016

'n Nuwe Jaar en nuwe Planne

Hier by ons is n gesegde: Jou planne moet net nie op raak nie. Ek probeer dit nou gestand doen met n plan vir die nuwe jaar. Ek het baie projekte waaraan ek wil werk en baie half klaar projekte waaraan ek moét werk. Ek word egter gepootjie met te min lus en energie en nou ook die warmte en' n lugversorger in my naaldwerkkamer wat nie wil werk nie.

My blog is vir 3 jaar lank verwaarloos. Gelukkig het dit nog nie in die kuber ruimte verdwyn nie. Ek sal nou my blog gebruik om my verantwoordbaar te hou. Ek voel altyd ek kan nie blog as ek nie foto's het nie. Met my iphone is dit maklik om die fotos op die rekenaar te kry en met die probleem oor kom, kan ek sekerlik nie meer dit as verskoning gebruik nie. (Het nou eers weer gesukkel- maar hopelik weet ek nou hoe.)

Ek het besluit om net maandeliks planne vir die maand te maak. So my plan vir die maand is:

1.Werk aan die kwilt op die raam. Die laslapwerk is al seker in 2009 voltooi, maar dit word nou eers gekwilt. Ek het n dik wol watteersel wat ek vanaf Sneeuberg bestel het. (Hulle maak nou toe so help bie ek gee die link nie.) Dit word eintlik in motor stoffering gebruik. Dit sal baie moeilik wees om dit te kwilt as dit nie op die raam is nie aangesien die vreeslike pofferigheid veroorsaak dat die lae skuif en mens dan plooie in kwilt.

Op die raam dra die dik watteersel daartoe by dat die ruimte om te kwilt al hoe kleiner word. Ek het dus net die eerste twee rye blokke gekwilt en toe dit net af gerol om in die naatjies (ditch) te kwilt om die lae op mekaar te anker. Nou moet dit omgedraai word om die anderkant te kwilt en dan sal ek dit ook afhaal en draai om elke sy bo te kry en te kwilt.

Wat is die ander haak plekke? Die Bernina 830 gee n groter ruimte om te kwilt maar is nie gelukkig met die vorentoe en agtertoe bewegings wat ek van haar vereis om die vere te kwilt nie. As ek weer sien is die spanning uit of die garing breek of die garing maak n knop aan die onderkant. Die masjien is pas gediens, ek sit nuwe en ander soortige naalde in, gebruik al die garings wat ek het maar ek kry steeds probleme. Sulke tye is dit maar op my tande byt en beplan aan die langarm masjien wat ek graag wil koop.

2. My tweede projek vir Januarie is my handlas projek- "Millefiori soos ek wil" wat ek met Willyne Hammerstein se patroon La Pasagaclia aanpak. Hierdie projek sal my n paar maande besig hou. Ek werk saans daaraan maar moet werklik n punt maak om elke aand te werk anders sal dit nie klaar kom nie. My handlasprojek van verlede jaar is ook nog in dele omdat ek nie voldoende tyd daaraan spandeer het nie.



Dis so lekker om die kaleidoskoop effek te sien.


3. Ek moet n ster blokkie maak vir ons Boland gilde se "sew a Row" projek. Die inligting sal ek sommer op my blog sit sodat lede daarna kan kom kyk.

4. Dan moet ek ook voorberei vir die klas wat ek gee om die "Dear Jane" kwilt te maak.

5. Ek het materiaal gekoop om Katja se New Heksagon projek aan te pak. Ek het deur mekaar geraak daar in Quilttalk en net 5 herhalings gekoop ipv 6 soos ek vir hierdie projek benodig. Ek het begin met die projek maar is nie tevrede met die algemene voorkoms nie. Ek sal maar verder soek vir die regte materiaal en dan weer oor begin.



6. Hierdie kwilt is n Patroon wat ek op Craftsy gekoop het. Rita het my gehelp om die blomme in die middel te rangskik. Nou moet ek die raam vasstik en dan weer haar hulp kry om blomme op die raam te rangskik.
Blomme is darem net altyd mooi.


7. My laaste projek vir Januarie is n kinder kwilt vir Siegfried, my oorlede broer se 3 jarige seuntjie. Ek wil sommer ook n klas hier in Riebeek aanbied vir 'n kinder kwilt en die patroon bied lekker geleentheid om basiese dinge in laslapwerk te leer. Hier is my EQ voorstelling van wat ek beplan.
Beplande kinder kwilt
Nou ja as ek by al hierdie kwilts uitkom kan ek myself sekerlik op die skouer klop. Ons sal sien hoe ek vaar.

Is jou planne vir die nuwe jaar al reg?

Marié

1 comment: