'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Sunday, May 15, 2016

Hulp uit n ander oord

My Simply Sixteen is in werking en binne drie weke het ek drie kwilts klaar gekwilt. As ek meer tyd net daaraan kon wy sou ek al baie meer voltooi het. Ek het hope half klaar kwilts so ek sal die Simply Sixteen nog lank kan besig hou.
Ek het n baie dik wol watteersel gebruik en sou dit moeilik gekwilt het as ek nie die Simply Sixteen gehad het nie. (Ek het dit op my Bernina raam begin kwilt, maar kon net n halwe blok op n slag kwilt- die spasie was nie voldoende nie.)

Ek het vergeet om ook tussen die blokke in die "ditch" te kwilt. Die raam hou dit so mooi in posisie dat mens nie altyd besef jy het nie die noodsaaklike "onsigbare" kwiltwerk gedoen nie. Uit die raam pof die ongekwilte areas en mens kry dan "distortion" wat die blokke ongelyk laat wertoon. Ek sal dit nou met my masjien en "walking foot" doen.

Ek het gewaag om die vere in n ligter garing te kwilt. Dit is meer sigbaar. My kwiltwerk is nog nie eintlik goed genoeg om dit te doen nie, maar die kwiltjie is vir myself en ek wil graag die vere sien.
In die tussen tyd het ek nog n kwilt begin en reeds amper voltooi. Ek neem  dikwels boeke by die gilde se biblioteek uit en tog beënvloed dit nie my kwilt werk nie. Voor mens nie n projek aangepak het wat die boek voorstel of n tegniek beproef het nie, sal die boek geen invloed hê nie. Die laaste twee boeke wat ek uit geneem het, het my laat besluit om weer bietjie my boeke te "doen".

Uit die een boek:"Quilt the Seasons" van Barbara K Baker (lyk my nie dit is meer in druk nie) het ek die idee gekry om elke maand iets aan te pak, al is dit dan net iets kleins. (Ja as ek elke maand' n nuwe kwilt begin sal ek 12 half klaar kwilts hê teen die einde van die jaar- en as ek nie op pas nie stuur ek daarop af!) So julle sal dalk dink dat ek nie die aanmoediging nodig gehad het nie!

Uit die ander boek Red White and Sometimes Blue, Classics from Mc Call's Quilting het ek die voorblad kwilt begin. Ek is mal oor rooi en wit kwilts en so spyt dat ek nie die wonderlike uitstalling van Rooi en wit kwilts wat n paar jaar terug in New York gehou is, kon bywoon nie. Die boek oor hierdie uitstalling en kwilts is nou te koop en ek beplan om dit aan te skaf.

Die kwilt wat ek maak het gelaste blokke afgewissel met wit blokke. Aangesien ek nog nie so goed kwilt op my Simply Sixeen nie en ook baie borduur patroontjies het en graag borduurwerk met laslapwerk kombineer, was dit n maklike besluit. Borduur "redwork" patroontjies op die wit blokke. Ek het twee stelletjies een met hoendertjies en  die ander bosse blomme gekies om op die wit blokke te borduur. Nou na twee weke moet ek net die laaste nate stik en die raam om sit. My rooi materiale is nou baie min en daar is nie materiaal vir n raam in my kas nie- so dit sal ek nou spesifiek moet gaan soek. Wat n lekker werkie!
Die kordate hoendertjies is tog te mooi.
Alhoewel my Simply Sixteen nie nou n kwilt op het nie (Ons gaan bietjie Nampo toe) beteken dit nie ek het niks om te kwilt nie! Die kwilt wat ek vir Stefniek gemaak het is  net soek. Ek het my naaldwerk kamer al om gekeer en ook in die huis gesoek. Ek kan net nie dink wat ek daarmee as ook met die blou langhaar materiaal wat ek as agterkant wil gebruik, gemaak het nie. Ek wou dit nou kwilt maar as ek terug is van Nampo en dit nog nie kan vind nie sal my scrap kwilt wat al 25 jaar gelede voltooi is en wat ek al begin kwilt het, nou eers plek op die raam kry.

Hoop jy geniet ook jou kwiltwerk.

Marié


No comments:

Post a Comment