'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Monday, June 20, 2016

Nog bietjie oor La Paz

Ek het Woensdag 'n bietjie my werkswyse vir Willyne Hammersteins se kwilt: La Passacaglia by ons gilde gedemonstreer en het besef dat alhoewel ek al hier daaroor geblog het, is daar nog meer te sê. Ek wil graag ook vir die Boland Gilde die inligting hier by mekaar gee so sal dalk herhaal wat ek in my vorige blog geskryf het.

Ek dink almal wat hierdie kwilt maak, maak gebruik van motiewe wat op n fuzzy cut metode uit materiaal gesny word. Waar my werkswyse van ander kwilts wat ek op die internet sien verskil, is dat ek hoofsaaklik een materiaal, deur Jane Sassaman ontwerp, gebruik het. Ek het vyf herhalings van die materiaal identifiseer. (Ek kon baie meer herhalings kry maar dan sou dit kleiner stukkies wees en mens verloor baie lap op die buiterand waar motiewe deur gesny word) As jy een materiaal vir jou La Paz wil gebruik maak seker dat n herhaling ongeveer 60-80 cm groot is, anders sal jy nie genoeg eenhede kan sny nie.

Ek dui die herhalings met skêr en pen aan

Ek het vyf identiese lae op mekaar gestapel net soos wat mens sou doen as jy n "One Block Wonder" of "Stack n Wack " kwilt sou maak. As ek dan my pantjies uit gesny het, het ek 5 identiese ontwerpe gehad. Mens moet net onthou dat jy 5 ontwerpies vir die middelste "ster" benodig maar 10 vir die pentagoon rand wat daarom gaan. Hierdie tien kan van twee identiese ontwerpe geknip word. Mens kry eintlik baie interessante resultate as jy dit van spieëlbeelde kan sny. Nie alle materiale het simmetriese ontwerpe waar mens dan ook n spieëlbeeld kan sny soos hierdie lieflike materiaal van Jane Sassaman nie. So as jy spesiaal materiaal gaan aan koop kyk of jy een kan kry wat aan jou die opsie bied.



Baie ander kwilters het elke sirkel uit 'n ander materiaal en kleur gemaak. My sirkels is uit dieselfde materiaal maar party is meer groen, blou of pink afhangende van watter motiewe uit die Jane Sassaman materiaal wat ek gebruik he,t gesny is, asook die kleure wat ek daarmee kombineer het.

By The DIYaddict  stel Karen voor dat mens eers n paar van die kleiner sirkels maak- die 5 diamante met die 5 smaller diamante en die 10 pentagone, sodat mens eers' n gevoel kry van wat die materiaal waarmee jy werk kan doen en ook watter effekte die beste werk. Dit is baie goeie raad. Ek het al 33  kleiner Rosette gemaak voor ek met my 4 groot Rosette begin het.

Ek het gesien dat alhoewel enkel ontwerpe mooi lyk, is dit veral die interaksie wat die pantjie met die een langs hom het wat besonderse resultate lewer. Ook kan lyne wat in 'n rigting gaan die oog lei om oor die ontwerp te beweeg. Vaste ontwerpe soos blommetjies kan die kwilt baie besig maak omdat dit 'n spikkel effek lewer. As dit al is wat mens gebruik kan dit uiteindelik steurend wees omdat jou oog nêrens 'n rusplek op die kwilt oppervlakte het nie.

Daar is net 4 groot Rosette en net drie van hulle het 'n volle sirkel sterretjies. Slegs een kleiner Rosette het n volle sirkel sterretjies. Slegs die groter Rosette het dan ook kleiner sirkeltjies van 6 pentagone. Dit hoef nie noodwendig in sirkeltjies gerangskik te word nie en mense kry wonderlike effekte met wat hulle doen. Ek het die naweek myne beplan en die pantjies daarvoor gesny.
Die groot onvolledige Rosette

Dit hang af watter ontwerpe mens hier aan pak, hoeveel groot pentagone mens benodig.(Soms tot 24 van dieselfde of ek het ook 18 en 18 spieëlbeelde benodig.) Almal was toe nie identies nie maar ek kon dit maak werk.  Dit het dus sorgvuldig tel gekos en areas uitsoek om daardie pantjies te sny. Moet dus nie al jou pentagone aan die begin sny nie, sny soos jy aangaan en sien wat werk en sorg dat n groot stuk van die 5 lae materiaal nog beskikbaar is om die variasies wat in hierdie 4 groter Rosette nodig is te kan sny.


Hier is nog n paar skakels:

Die boek is te kry van Quilt Mania

Allyson Richbieter verkoop die boek en patroonplate by haar Craf Academy,

Daar is heelwat Pinterest plekke waar mens n verskeidenheid van die kwilts kan sien soos ook hier en hier

Dit is goedkoper om in dollar te koop as in pond maar hier is n Engelse skakel vir die wat wel daarin belangstel

'n Artikel deur Love Patchwork

'n Blogger Sharon  beskryf hoe sy die proses aangepak het.

Nog van die Rosette



Ek hoop ek kon julle belangstelling hierin prikkel. As jy nie self een wil maak nie weet jy nou waaroor al die internet opgewondenheid gaan!

Lekkeer Las
Marié