'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Saturday, July 16, 2016

My Kwilt Groei

Een van die lekkertes van 'n kwilt maak, is as dit so onder jou hande utiswel om 'n kwilt te word. Alhoewel daar nog baie werk in my La Passacaglia moet in gaan, kan ek al so 'n idee kry van hoe dit sal lyk. Die vier groot rosette is gemaak- 3 van hulle kort nog hul halfsirkel sterretjies wat buite om moet kom. Die grote in die linker onderste hoek, het sy sterretjies om en ek het ook al 4 kleiner rosette aangeheg.

Toe ek nou die rosette rondom die 4 grotes uitpak, vermis ek tot my skok 4 rosette. Ek weet dat ek 33 gehad het- ek het dit oor en oor getel. Al waar ek dit kon verloor het, is toe ek dit by Boland vergadering demonstreer het. So ek hoop iemand het dit vir my veilig bewaar en dat ek Woensdag daarmee sal kan herenig. Anders moet ek nog 4 maak en my materiaal is maar skraps, ek sal dit dalk een vir een moet uitsny.

Die een nadeel van handlaswerk is dat mens vergeet om dit op jou "design wall" te sit. (my naaldwerk kamer is buite die huis en my handwerk doen ek in die huis). Mens kry defnitief n ander perspektief as jy van n afstand daarna kyk. So het ek eers gesien toe ek dit hierop uit gepak het dat die groen sterretjies met die pentagone kan saamsmelt (soos in die groot linkerkantste roset). Die geel sterretjies lyk nou vir my snaaks met die ligter geel diamante as agtergrond, of lyk dit net anders? Ek beplan om die diamante wat die agtergrond van die sterretjies vorm, donker te maak vir die rostte op die buiterand.

Ek het al n paar keer verkeerd gewerk en was nogal verbaas oor hoe moeilik dit was om uit te trek. My handlas stekie is na 32 jaar van handlas werk klein en stewig. Indien ek pante sal wil vervang sal dit miskien makliker wees om die alternatief te appliek.

Met al die rosette uitgepak moet ek nou baie vinnig aan hierdie projek werk- my Dear Jane/Liewe Hedwig blokke is ook op die sagte bord uitgepak en ek wil ook daaraan werk, (Ek het net 'n laag watteersel oor gesit), As ek nie vinnig genoeg kan las nie sal ek maar die rosette op die watteersel moet vasspeld en dit eers opvou.

Ek probeer verseker dat die oorwegend pink en oorwegend groen rostte goed versprei is. Sal dalk moet begin rond skuif as ek die ander 4 gevind het.

Hierdie projek stel baie uitdagings, Dit vereis fyn werk, netjies speld en goed kop hou. Natuurlik is dit deel van die lekker- niks verveligs aan die projek nie- dis verseker!

Geniet jou laswerk!
MariƩ