'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Sunday, January 8, 2017

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde

Die probleem met ouer word is dat jy al hoe meer jouself word. Elke begin van die nuwe jaar probeer ek maar weer 'n beter weergawe van myself word. Met terug skou op die ou jaar besef ek maar net hoe ek gefaal het. Dit breek nogtans nie my moed nie en ek glo elke jaar ek sal kan verbeter.

As ek terug kyk op 2016 het ek nie veel bereik met my kwilts nie- ek het darem 4 ou kwilts klaar gekwilt op my nuwe Handi quilter- die vyfde amper klaar. Ek het twee nuwe kwilts gemaak, voltooi en weg gegee. Ek het ook twee nuwe kwilt toppe gemaak. Dit sal in die nuwe jaar gekwilt word. Voor my vakansie by Melkbos het ek 4 kwilts se lappe gesny en darem met drie daarvan gevorder. Dit sal ek nou in die nuwe jaar voltooi.

My grootste prestasie in 2016 was nie kwilt verwant nie- ek het suksesvol net in n swembroek, swempet en brilletjie die 8,2 km vanaf Robben Eiland na Big Bay geswem. Die moeilikste swem van my lewe- ek was koud toe ek begin het, maar ek het dit voltooi. Tog is daar baie wat my swem en kwiltwerk gemeen het- beide is 'n meditasie, 'n delf in myself om beter dinge na vore te bring, 'n vasberadenheid wat uiteindelik voltooing/suksesse bring. Beide is ook vir my uiters genotvol, 'n passie wat my hele lewe rig.

Vir my is die sleutel tot sukses om doelwitte te stel en 'n onderliggende organisasie stelsel te hê wat dit moontlik maak om die doelwitte te bereik.

Vanjaar is een van die sleutels tot my organisasie, my boeke. Ek het die boek by Pick n Pay gekoop en my hekel werk daarin begin organiseer. Toe ek nog een vir my laslapwerk wil koop kon ek dit glad nie meer kry nie. Gelukkig het my vriendin Rita vir my n grote en n kleintjie gekry- nou is my lewe ook sommer georganiseerd.

Die boek het plastiese "dividers" in gebind en verdeel die boek in5 afdelings


Ek het al baie verskillende stelsels op die proef gestel; The Power of Ten het net gewerk as ek my projekte verminder na 3. Dit hou ek nou in gedagte as ek Lorri Kennedy se stelsel gaan beproef: The Quilt Notebook. Ek het 'n stelsel nodig om al my ysters in die vuur te hou in 2017. Ek dien tans as Vise President van GHQG en moet as sodanig ons Fynbos "retreat" vir 2018 organiseer. Dan is ek ook Voorsitter en tesourier by die ACVV Riebeek Kasteel waar ons ook nuwe projekte soos n kleuterskool van stapel wil stuur. My swem kan verseker nie agterbly nie en ek beplan om in April weer van Robben Eiland te swem- hierdie keer gaan dit lekker wees!

My hoof fokus vir my hand projek is om my La Paz te voltooi. Ek het die sterretjies sirkel vir die verskillende rossete die laaste paar maande gemaak. Dit gaan ek nou vaswerk en dan die rosette aan mekaar werk. Soos dikwels gebeur met projekte waaraan ek oor n tydperk werk is dat dele daarvan soek is. Die grootste deel van die projek is op die ontwerp muur, maar ek moet die ander dele by mekaar soek.
Die deel wat ek soek (en gekry het) pas onder links in.

Ek is nou terug van my vakansie en begin dus more met die daaglikse roetine. Vroegoggend gaan ek swem- hopelik so 3,5 km. Dan moet ek by die melkery gaan vergadering hou en die probleme daar help hanteer.  Ek hoop om voor die middag in my naaldwerk kamer te kom om die voorbeeld kwilts vir die klasse wat ek in Moorreesburg gaan gee, te maak.

Laat 2017 vir ekeen van julle n vreugdevolle en vrugtevolle jaar wees.

Alles wat mooi is!!
Marié