'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Tuesday, February 21, 2017

My 60 Projek

Ek vertel nou die dag van my 60 projek- ek wil in 60 baaie (see) en 60 Riviere/damme/strandmere swem in die 2 jaar rondom my 60 ste verjaardag(die jaar Junie). Antionette vra toe en waarom nie ook 60 kwilts maak nie? Hierdie uitdaging kan ek nie net daar los nie. Dalk is dit net wat ek nodig het om myself gerat te kry om al hierdie half klaar goed klaar te maak.
Ek hou so baie van die stuk werk- weet nie waarom ek dit nie voltooi het nie?

Julle het tog nie gedink ek kan 60 nuwe goed begin en klaar maak nie- daar is nog net 15 maande oor. Dit beteken 4 kwilts n maand. Ek wou al lankal n lys maak van al die halfklaar goed. Ek het nou lyste (ek sit die handlas goed apart van die ander en het n lys vir 2016 en 17 goed) en ek tel 56 kwilts wat DIC (delayed in construction) en UFO status het. (Daar is nog in n ander kas en houer so ek is reeds oor 60) Die meeste se tops is klaar- hier en daar kort een 'n border.
Dit was n klas voorbeeld en verdien om voltooi te word

So dis hoe ek die uitdaging gaan beantwoord. Vir die kwilt om in aan merking te kom moet dit van 10 Junie 2016 tot 9 Junie 2018 voltooi word. Dit moet n "label" aan hê en as dit n muurbehangsel is ook die "sleeve" vas gewerk, reg om te hang. Dit moet dus heeltemal klaar wees. Ek het 3 verlede jaar voltooi so julle kan sien ek sal baie meer produktief moet raak om die uitdaging te kan uitvoer.
Hier is een van die voltooide kwilts- ek het in 1989 daarmee begin en September 2016 voltooi

Ek sou nie die uitdaging kon aanpak as ek nie n langarm masjien (Handi Quilter) gehad het nie. Ek dink mens spandeer 80 % van jou tyd om die kwilt in die regte poesisie te trek as jy op n gewone masjien kwilt. Daarom is kwiltwerk op die langarm soveel gouer. Dit is natuurlik ook relatief- hoe groter die kwilt hoe langer neem dit.

Alvorens ek by die kwiltwerk kan kom is daar heelwat voorbereiding aan die meeste van die halfklaar goed. Ek sal hier op my blog vir julle op hoogte hou hoe ek vorder, so laat ek aan die werk spring!

Alles wat mooi is,
Marié