'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Tuesday, February 21, 2017

My 60 Projek

Ek vertel nou die dag van my 60 projek- ek wil in 60 baaie (see) en 60 Riviere/damme/strandmere swem in die 2 jaar rondom my 60 ste verjaardag(die jaar Junie). Antionette vra toe en waarom nie ook 60 kwilts maak nie? Hierdie uitdaging kan ek nie net daar los nie. Dalk is dit net wat ek nodig het om myself gerat te kry om al hierdie half klaar goed klaar te maak.
Ek hou so baie van die stuk werk- weet nie waarom ek dit nie voltooi het nie?

Julle het tog nie gedink ek kan 60 nuwe goed begin en klaar maak nie- daar is nog net 15 maande oor. Dit beteken 4 kwilts n maand. Ek wou al lankal n lys maak van al die halfklaar goed. Ek het nou lyste (ek sit die handlas goed apart van die ander en het n lys vir 2016 en 17 goed) en ek tel 56 kwilts wat DIC (delayed in construction) en UFO status het. (Daar is nog in n ander kas en houer so ek is reeds oor 60) Die meeste se tops is klaar- hier en daar kort een 'n border.
Dit was n klas voorbeeld en verdien om voltooi te word

So dis hoe ek die uitdaging gaan beantwoord. Vir die kwilt om in aan merking te kom moet dit van 10 Junie 2016 tot 9 Junie 2018 voltooi word. Dit moet n "label" aan hê en as dit n muurbehangsel is ook die "sleeve" vas gewerk, reg om te hang. Dit moet dus heeltemal klaar wees. Ek het 3 verlede jaar voltooi so julle kan sien ek sal baie meer produktief moet raak om die uitdaging te kan uitvoer.
Hier is een van die voltooide kwilts- ek het in 1989 daarmee begin en September 2016 voltooi

Ek sou nie die uitdaging kon aanpak as ek nie n langarm masjien (Handi Quilter) gehad het nie. Ek dink mens spandeer 80 % van jou tyd om die kwilt in die regte poesisie te trek as jy op n gewone masjien kwilt. Daarom is kwiltwerk op die langarm soveel gouer. Dit is natuurlik ook relatief- hoe groter die kwilt hoe langer neem dit.

Alvorens ek by die kwiltwerk kan kom is daar heelwat voorbereiding aan die meeste van die halfklaar goed. Ek sal hier op my blog vir julle op hoogte hou hoe ek vorder, so laat ek aan die werk spring!

Alles wat mooi is,
Marié

1 comment:

  1. Ek is soooo bly ek is nie die enigste een wat halfklaar kwilte so laaank laat lê nie! Ek het, na ek my langarm masjien (ook 'n Handi Quilter) gekry het, in 2016 twee (groot) kwilte kant en klaar gemaak. Albei was omtrent 12 jaar tevore begin. Maar "all is well that ends well".
    Die een was vir my man se tannie, en sy het al geskimp dat ons die halfklaar ding maar oor haar lyk kan gooi eendag wanneer sy doodgaan. Gelukkig gaan dit nie nodig wees nie! Sy gaan nou lekker warm onder hom kan slaap hierdie winter.

    Ek het so 5 jaar gelede verneem om geen nuwe projekte te begin totdat al (of te minste meeste van) my UFO'S (of PHD'S, viz. Projects Half Done) voltooi is nie. Ek is tog spyt daaroor, want dit smoor 'n mens se kreatiwiteit. Mens kan mos nie inspirasie aan en afskakel nie: as dit jou oorval moet jy daarmee gaan ("go with the flow") anders stagneer ons.
    En tog werk ek nou hard aan nog 'n UFO wat ek in Feb 2006 begin het: 'n Double Wedding Ring kwilt. Dis net soos tande trek! Maar ek het nou al te veel tyd daaraan spandeer om dit te los, so ek byt vas, en kners en ploeter voort.
    Marie, sterkte met jou 60 kwilt projek. Ek hoop dis nie soos tande trek nie, maar gee vir jou groot harts-vreugde (wel, ten minste meeste vd tyd!)

    ReplyDelete